Leer ons mense ken

Petro Coetsee is die voorsitter van Heidelberg DBV vanaf 2019. Sy is getroud met Hennie en hulle het twee dogters, Cecile en Mirna. Die gesin woon in Heidelberg.

Hoe het jy betrokke geraak en waarom?
Ek is betrokke by die DBV van Januarie 2018. Ek het 36 jaar vir FNB gewerk. My man wou meer reis en ek het op vroeë pensioen gegaan. Ek was my lewe lank baie passievol oor enige dier en het belsuit om by die DBV aan te sluit om ’n verskil te maak.

Dink jy daar word genoeg gedoen om mense wat diere mishandel vas te vat?
Daar is verskeie wette in plek. Ek voel dat dit nie altyd streng genoeg is nie. Die feit dat mense soms nie betrokke wil raak nie, maak dit moeilik vir die DBV om die saak verder te neem. Die gemeenskap is ons oë en ore en ons vra dat engie person wat bewus is van enige dieremishandeling dit aan die DBV moet rapporteer. Ons verskaf glad nie die bron waar die klagte vandaan kom nie. Die NDBV is ook voordurend besig met hofsake en ons streef regtig daarna om die stem van die stemloses te wees.

Dit is ’n algemene tendens dat die DBV sukkel om kop bo water te hou. Hoe kan die publiek help?
Daar is verskeie maniere hoe om betrokke te raak en ’n verskil te maak. Deur ’n kennelborg te word vir R100 per maand of meer en jy kan soveel kennels borg soos jy wil. Ons verkoop op die oomblik ons kalenders vir R70 en kontant donasies is altyd welkom. Die kontant word aangewend vir salarisse, mediesekoste en instandhouding van die perseel en ons voertuie. Donasies van hond-of katkos, plastiese speelgoed vir honde en katte is ook welkom. Ons het altyd vrywilligers nodig om ons met instandhouding te help. Ons boekwinkel is ook baie gewild, asook ons herwinning van plastiek, glas, blikkies en papier.

Hoeveel troeteldiere het jy?
Ek het vyf honde.
Wat is jou gunsteling wildedier en waarom?
Olifante. Afrika se slim reuse. Ons gaan gereeld Botswana toe en ek geniet dit om na hulle interaksie met mekaar te kyk. Hulle is baie intiligente diere wat familie-vas is.

Wat is jou beroep?
Die DBV is tans my beroep.

Hoe spandeer jy graag jou vrye tyd?
Ek geniet spinning, ek stap graag, lees en doen mosaïek werk as daar tyd is.

Indien jy die geleentheid kry om in ’n ander land te gaan woon, sal jy dit oorweeg?
Nee wat, ek hou daarvan om te toer, maar dit is elke keer lekker om weer terug te wees op Suid-Afrika se bodem.

Jy kan saam met enige vyf mense ’n middagete geniet. Wie sal jy nooi en waarom?
Op hierdie stadium met Covid, hou ek maar by naaste familie en vriende.

Wat sal ’n mens altyd in jou handsak vind?
Penne, lipstiffie, DBV kaartjies en my selfoon.

Wat is die laaste boek wat jy gelees het?
Kane and Abel deur Jeffrey Archer.

Beskryf jouself in vyf woorde.
Passievol, positief, lojaal, eerlik en betroubaar.

Wat weet min mense van jou?
Ek was altyd ’n groot Prinses Diana aanhanger. Sy was ’n regte mense-mens.

Exit mobile version