Local newsNews

Leer ons mense ken

Willem Sprong is vir die afgelope ses jaar voorsitter van die AfriForum Heidelberg-tak. Hy is getroud met Sarita en het drie seuns. Hulle woon sedert 2006 in Heidelberg.

Waar het jy groot geword?
Ek het in Kimberley groot geword, in 1993 gematrikuleer en in Potchefstroom ingenieurswese gaan studeer. Dit is dan ook uiteindelik deur my aanstelling by die destydse Spoornet dat ek in Heidelberg beland het tussen 1999 en 2003. Ek was vir drie jaar in Nelspruit voor ek teruggekeer het Heidelberg toe.

Hoe lank is jy al ’n lid van die AfriForum-tak in Heidelberg?
Ek het ses jaar terug by die organisasie aangeluit en is toe ook as voorsitter van AfriForum se Heidelberg-tak verkies.

Wat behels jou pligte?
AfriForum is ’n burgerregte organisasie wat hom bemoei met veral die regte van minderheidsgroepe. As voorsitter sit ek deesdae net agteroor en bewonder die fantastiese energie wat hierdie jaar sy oplewering in die tak gemaak het. Die nuwe lede op die bestuur dryf die sukses van die afgelope ses maande met ongekende doeltreffendheid. Heidelberg se tak word baie hoog geag in die organisasie danksy die bestuurslede se toewyding.

Die organisasie lê jou na aan die hart, wat is so spesiaal daaraan?
Ons bevind ons tans in baie uitdagende omstandighede in Suid-Afrika. Baie mense voel hopeloos. As ons net weer hoop kan bring sal ek baie tevrede wees. Ons hoef nie net agteroor te sit en toe te kyk hoe ons omgewing agteruit gaan nie. Ons kan self aan ’n toekoms vir ons bou in die land. Dit begin hier in Heidelberg.

Sou jy ander aanraai om aan te sluit, en hoekom?
Die meeste mense kan krities van die kant af staan en kyk maar dit is die klompie wat hul moue oprol en inklim wat die verskil maak. Ons het so baie geleenthede om ’n verskil op verskeie vlakke te maak. Elkeen wat aansluit en moue oprol sal ’n plekkie by AfriForum Heidelberg vind. Ek glo dit is juis die gemeenskap van Heidelberg wat hierdie so fantastiese plek maak om in te bly.

Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
In my vrye tyd is ek voorsitter van AfriForum. Wanneer jy betrokke raak by ’n gemeenskap en in die gemeenskap dan is dit juis daai betrokkenheid wat jou vrye tyd opneem

Waar is jou gunsteling vakansieplek?
Ek sal enige tyd trek Mosselbaai toe. Vir jare is dit al my gunsteling plek.

Kan jy sonder ’n selfoon leef?
Ek sou graag sonder my selfoon wou leef, maar ongelukkig het dit deesdae onmoontlik geword om sonder die speelding klaar te kom.

Het jog enige doelwitte wat jy graag wil bereik?
My grootste droom is om ’n gemeenskap van eenheid in Heidelberg te skep. Om vir elkeen ’n plekkie te bou waar hulle weer hoop kan vind.

Wat is jou boodskap aan inwoners na ’n uitdagende jaar?
Die jaar was moeilik in baie opsigte, maar dit het ons op die ou end geleentheid gegee om weer aarde toe te kom. Ons moet aanhou glo in ons hemelse Vader en Hy sal vir ons sorg. Wees lief vir jou medemens.

Enige voornemens vir die nuwe jaar?
Ek sal hierdie jaar graag my eie besigheid verder wil uitbou tot waar ek in staat sal wees om ook daardeur ander te kan help.

Related Articles

Back to top button