Ludwig Ankiewicz (79) het al verskeie historiese opgrawings wat tot 250 miljoen jaar terug dateer, op sy plaas, Barnardskop in die Balfour-distrik, gevind.

Die plaas is sedert 1911 in die Ankiewicz-familie en het in 2011 sy 100 jaar bestaan gevier. Ludwig en sy vrou, Regina, is al 56 jaar getroud. Hulle het drie kinders en agt kleinkinders.

Die Heraut het met Ludwig gaan gesels.

Wie is Ludwig Ankiewicz?

“Ek het op die plaas grootgeword en in Balfour skool gegaan. In 1958 het my biologie onderwyser, Mnr Vlam, vir my gesê: ‘As jy buite in die natuur op jou hurke gaan sit en jy kyk om jou heen gaan jy iets interessant sien’. Hierdie woorde het in my lewe waar geword met al die klipwerktuie en ander historiese dinge wat ek uit die verre verlede raaksien. Na skool het ek saam met my pa geboer, maar die boodskap van Mnr Vlam het vasgesteek en ek was altyd op die uitkyk vir daai ‘iets interessant’.”

Wat maak Barnardskop so besonder?

“Afgesien van die mooi uitsig het die plaas ‘n besondere argeologiese geskiedenis. Oor die jare het ek onder andere versteende hout en agaat opgetel. Ek het ook oer-oue klipwerktuie soos bytels en skrapers gevind wat tot 1.5 miljoen jaar terug gebruik was. Die mees onlangste ontdekking was in November toe ek ‘n klip (moontlik ‘n koraal) wat uit die steenkooloerwoud afkomstig is, gevind het. Ek is nog besig met navorsing om die presiese benaming en ouderdom vas te stel, maar dit kan moontlik tot 250 miljoen jaar oud wees.”

Een van die oer-oue klippe wat moontlik ‘n koraal kan wees wat vermoedelik tot 250 000 jaar oud is en onlangs op Barnardskop gevind is.

Hoe het jou liefde vir argeologie ontstaan?

“Ek was al die jare ‘n boer. Toe ons, ons oudste dogter in 1975 na ‘n dokter in Randburg toe neem om haar vir beroepskeuse te laat toets, het hy gesê: ‘As die Here vir jou drie talente gee en jy bevredig nie een van hulle nie, gaan jy ‘n ongelukkige mens wees.’ Daar is my hande losgemaak om my met my talente besig te hou wat nie noodwendig geld inbring nie, maar wat in mens se binneste ‘n kalmte en geluk bring wat nie met geld gekoop kan word nie. Ek glo die Here het vir my die talent gegee om interessante dinge raak te sien en te ontdek, net soos my biologie onderwyser dit gestel het.”

Wat doen jy met al jou kennis?

“Ek het in 2008 begin om my kennis en bevindinge in boeke vas te pen en tot dusver al vier boeke geskryf en ongeveer 1 000 kopieë versprei. Ek publiseer en versprei die boeke self. Ek deel ook my kennis met toergroepe en my boeke is ten toon by verskeie toerisme instansies.”

Wat is die mees interessante aspek wat in jou boeke oor geskryf is?

“Daar is so baie argeologie, geologie en geskiedenis, asook die historiese gebeurtenisse in omliggende omgewings, dit hang van die leser af. Ek dink die oer-oue implemente wat ek ontdek het op die plaas, maar ook die stories wat ek vertel. Iets wat in my tweede boek vasgelê is, is die olifante wat in Heidelberg in die vroeë jare gewei het.”

Wat was die grootste gewaarwording in jou lewe?

“Toe ek bewus geword het dat my naam opgeskryf is in die Boek van die Lewe van die Lam. Ek was nie daar om ‘n bydrae te lewer tot my verlossing nie. Dit is enkel alleen deur die almagtige God, skepper van hemel en aarde gedoen. Slegs uit genade.”

Wat is jou boodskap aan die jeug?

“Gaan sit buite in die natuur op jou hurke en kyk om jou heen dan gaan jy iets interessant sien. Moet nooit ophou leer nie en wees bewus van jou omgewing, maar veral van jou Hemelse Vader.”

Ludwig Ankiewicz kan op 082 573 5449 geskakel word vir meer inligting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version