Local newsNews

Dames vier oorwinning oor borskanke.

Borskankermaand in Oktober het weereens bewustheid vir hierdie gevreesde siekte geskep.

Vir die mense wat dit gehad het, en ook die wat behandeling daarvoor ontvang, is die reis van dag een af gepaard met emosies van onsekerheid en vrees.

“Die oomblik wanneer jy besef daar is iets fout kry jy ’n lam gevoel op die krop van jou maag. Jy stel eers uit om dokter toe te gaan, want net dálk gaan dit vanself weg,” het Juanita Alberts van Nigel, wat in November 2018 gediagnoseer is, vertel.

Juanita se ma, Ria Alberts, wat ook gediagnoseer was met borskanker in 2014, is sedert Mei 2015 in remissie. “My ma was een van die gelukkiges wat nie chemo en bestraling nodig gehad het nie.

Met my eerste afspraak by onkologie het ek soos ’n verskrikte Graad Een dogtertjie gevoel. “Ek het mense gesien wat lag en gesels en mense wat regtig verskriklik siek was. Mense met hare en ook die sonder hare. Ek het onwillekeurig aan my eie hare gevat en gewonder watter een van die mense ek sou wees. Ek was bang vir die onbekende en het moedeloos net gehuil omdat ek nie geweet het of ek ooit weer soos ’n normale vrou gaan voel nie,” het Juanita gesê.

Madeleine Stevens wat saam oorwinning gevier het nadat sy ook herstel het van borskanker.

Desember 2018 het sy met haar chemo behandeling begin, in Augustus 2019 ’n masektomie gehad en ’n rekonstruksie operasie in Januarie.

“Die behandeling was uitputtend, maar ek was verstom oor die bystand van mense wat my nie eers geken het nie. So het ek deel geword van ’n nuwe groep vrouens: oorwinnaars,” het Juanita vertel.

As oorwinnaars het die groep besluit om dit saam te vier deur ’n borskankertee in Oktober te hou. “Ons het ’n klompie dames genooi om saam met ons te kuier by Marmelady in Nigel om hierdie besondere dag te vier. Ons almal het weereens mekaar bedank vir elkeen se ondersteuning en liefde,” het Juanita vertel.

Die dames het elkeen borskanker oorwin.

Tonien Botha is ook ‘n borskanker oorwinnaar.
Nog ‘n borskanker oorwinnaar is Karin Tagliaferi.

“Die dankbaarheid as jy die klokkie kan lui in die chemo-kamer is onbeskryflik. Die dag as jy klaar is met bestraling voel jy dankbaar jy het nie opgegee nie. Na jou mastektomie besef jy, jy is nog ten volle vrou en jy waardeer jou eie liggaam net soveel meer. Die allergrootste dankbaarheid is tot ons Hemelse Vader. “Fillipense 4:13 sê: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee,” het Juanita gesê.

Related Articles

Back to top button