Local newsNews

Brakpan DBV begroet met grusame fonds aan begraafplaas se hoofhek

“Dit is werklik ontstellend dat ‘n persoon tot so iets in staat is.”

Waarskuwing: Foto’s onder aan die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

Die Brakpan DBV het vanoggend ‘n grusame ontdekking by die hoofhek van die Brakpan Begraafplaas gemaak.

Die karkas van ‘n kat is tussen die twee hekke ingedruk om dit in ‘n staande posisie te hou en die vel van ‘n bok of ‘n hond is oor die hek gedrapeer.

‘n Slegte reuk het in die lug gehang.

Dit blyk dat die volwasse kat moontlik al ‘n ruk lank dood is maar die  vel was egter nog redelik vars.

Volgens inligting het ‘n motoris Maandagoggend na Springs gery en die kat by die hek opgemerk.

Toe sy later na Brakpan terugkeer en die kat steeds in dieselfde posisie by die hek sien, het sy onraad vermoed en die Brakpan DBV gekontak.

‘n Ander vrou, wat gevra het dat haar naam nie gepubliseer word nie en wie gereeld in die omgewing van die begraafplaas beweeg, het gesê dat sy vanoggend met afgryse die toneel gesien het.

“Dit is werklik ontstellend dat ‘n persoon tot so iets in staat is. As iemand so iets kan doen, waar dit baie sigbaar is sidder ek om te dink wat alles binne in die begraafplaas aangaan.

“Dit is heeltemal onaanvaarbaar,” het die vrou gesê.

Die vel en karkas is deur die DBV verwyder en ‘n ondersoek na die voorval sal ingestel word.

Volledige kommentaar van die DBV oor die voorval sal ook gepubliseer word sodra dit ontvang word.

Enigiemand wat moontlik inligting oor die voorval het, word versoek om die bestuurder van die Brakpan DBV, Tamaryn Lombard te kontak by 011 742 2007.

‘n Vel van ‘n hond of bok is oor die hek gedrapeer.
‘n Uitgedroogde karkas van ‘n volwasse kat is tussen die twee hekke laat staan.

Related Articles

Back to top button