Jong hengelaar wys haar staal

Nicole het deur en deur bewys dat sy kan hengel.

Nicole de Bruyn, ’n 12-jarige leerder aan Laerskool Môrewag, het onlangs met groot welslae aan die Suid-Afrikaanse hengelkampioenskappe te Bloemhof deelgeneem.

Die Brakpan-Noord inwoner was die enigste meisie wat gekies is om deel te neem aan die Suid-Afrikaanse Vars Oewer Federasie (SAVOF) proewe.

Die toernooi het uit twee dae van oefen, drie dae SA’s en twee dae SA Minnies bestaan.

Nicole het deur en deur bewys dat sy kan hengel en het saam met die o-13A Gauteng-span goud verwerf teen 11 ander provinsies wat 66 hengelaars ingesluit het.

By die SA Minnies het die jong hengelaar op albei dae ’n eersteplek behaal.

Op die nuutste o-13 Nasionale SA rangorde lys, wat meisies en seuns insluit, het Nicole ’n negende plek gehaal uit 97 hengelaars in Suid-Afrika.

Dit gebeur nie sommer dat Nicole nie ’n vis aan die hoek kry nie.

Oor die toernooi van vyf dae het sy 88 visse uit die water getrek met ’n totale massa van 53.66kg.

Die kranige hengelaar vang nou al kompeterend vir drie jaar en het dié talent beslis by haar pa, Kobus de Bruyn (53), gekry wat ook ‘n SA hengelaar is.

Sy het van ’n jong ouderdom af gereeld saam met Kobus gehengel waar die gogga (of is dit nou die vis) gebyt het.

Die grootste en swaarste vis wat die jong meisie al ooit gevang het was ’n barber wat 16.25kg geweeg het.

Exit mobile version