Local newsNews

Wêreldpresident pak elke uitdaging

Magdie de Kock is in 2019 tot Wêreldpresident van die Associated Country Women of the World (ACWW) in Australië verkies. Die DSTV program Kwêla het in Augustus met haar oor die werksaamhede, struktuur en missie van die organisasie gesels.

“Die feit dat ek Afrikaanssprekend is, het daartoe bygedra dat Afrikaanse nuuskanale my verkiesing gedek het. Kwêla sou die insetsel verlede jaar tydens Vrouemaand beeldsend, maar weens Magdie se verpligtinge in die buiteland moes die onderhoud tot vanjaar uitgestel word.

Die impak van die Covid-19 inperkings het die onderhoud byna weer in die wiele gery, maar gelukkig kon sy vroeg in Augustus na die Kaapstadse ateljee reis, waar die onderhoud gevoer is.

“Dit was vir my ‘n voorreg om die organisasie bekend te stel en uit te brei oor die uitsonderlike werk wat deur vrywilligers op ‘n wye internasionale front gedoen word,” het Magdie vertel.

Magdie de Kock op die stel van DSTV program Kwêla.

Magdie is die eerste vrou uit Afrika om in 90 jaar hierdie besondere posisie te beklee. ACWW – wat in Afrikaans (nie-amptelik) “Die Wêreldbond van Plattelandse Vroue” genoem word, is die grootste wêreldwye vroue-organisasie wat verteenwoordiging aan plattelandse vroue bied wat se stemme dikwels nie gehoor word nie.

Die dryfkrag van ACWW is die opheffing en bemagtiging van plattelandse vroue regoor die wêreld sodat hul lewensomstandighede en opvoedkundige fasiliteite verbeter word. Die doelwitte word bereik deur die samewerking van 438 geaffilieerde organisasies vanuit 82 lande, oor agt kontinente en ‘n gesamentlike ledetal van byna 10 miljoen.

As vrywillige werker en betrokkenheid by plaaslike vrywillige organisasies soos die Vroue Landbou-unie en Dameskring, het Magdie oor baie jare geleenthede ontvang om die gemeenskap te dien,en haar passie vir vrywillige werk uit te leef.

“Om verkies te word as wêreldpresident van die ACWW was beslis ‘n hoogtepunt waarvoor ek nederig dankbaar is,” het Magdie vertel.

Haar rol as president behels dat sy die organisasie wêreldwyd verteenwoordig en driekeer per jaar vir ‘n maand in Londen (waar die ACWW se hoofkantoor is) moet wees.

Die organisasie vier hul 90ste bestaansjaar vanjaar en ten spyte van die Covid-19 pandemie, het hul werksaamhede nie skipbreuk gely nie. Baie byeenkomste in die buiteland is as gevolg van die pandemie na 2021 uitgestel . “Dit bemoeilik my reeds volgepakte skedule vir volgende jaar aansienlik. Ek het egter die afgelope jaar geleer om my nie te bekommer oor sake waaroor ek geen beheer het nie en die beste te maak van omstandighede waarin ek myself bevind,” het sy bygevoeg.

“Ek vereenselwig my met die woorde van Koos du Plessis: ‘Alles wat ek is, is net genade en alles wat ek het, is net geleen’ en ek weet verseker dat ek tot alles in staat is deur Christus wat my krag gee,” het hierdie formidabele vrou afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button