Na 60 jaar blom die liefde steeds

Johannes de Bruyn (87) en sy vrou Alta (80) het op 17 September hul 60ste huweliksherdenking gevier.

In die lente van 1960 het Johannes ewige trou gesweer aan sy skoolliefde Alta wat toevallig ook ‘n De Bruyn is.

Alta het op haar ouers se plaas in Delareyville grootgeword. In 1948 het Johannes se familie hulle op die plaas langsaan gevestig en so het hulle bure geword.

“Ek en Alta (wat sewe jaar jonger as ek is) het van die eerste dag af oor die weg gekom. Ek het ‘n sagte plekkie vir haar ontwikkel en toe sommer besluit om haar elke dag skooltoe te vergesel,” vertel Johannes.

Die gesin woon die afgelope 13 jaar in Heidelberg en het drie kinders en ses kleinkinders. Volgens die egpaar is die resep tot ‘n suksesvolle huwelik om mekaar te respekteer, alles saam te doen, saam besluite te neem en veral mekaar goed te leer ken voordat jy trou.

“Ons raad aan jong getroudes is om geduldig met mekaar se tekortkominge te wees, want niemand is perfek nie. Moet nooit kwaad gaan slaap nie en kommunikeer openlik. Die beste raad is om op jou knieë te bly, God te vertrou en niks sonder Hom aan te pak nie,” het Alta afgesluit.

Die paartjie is nog aktief en geniet die rustigheid wat Heidelberg bring. “En ja, ons is steeds verlief ,” het Johannes met ‘n knipoog bygevoeg

Johannes en Alta de Bruyn met hul troudag op 17 September 1960.
Exit mobile version