Local newsNews

Hou jou mond só gesond

Jy dink dalk dat borsel en die gebruik van ʼn mondspoelmiddel vir goeie mondgesondheid sorg, maar tande het vyf kante, en borsel maak slegs drie daarvan skoon.

Vir ʼn gesonde mond en vars asem is dit noodsaaklik om met vlos of ʼn ander interdentale toestel tussen die tande skoon te maak ten einde die kosdeeltjies en bakterieë wat in die spasies tussen die tande vasgevang word, te verwyder.

Volgens Stella Lamprecht, president van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mondhigiëniste (OHASA) maak minder as een derde van Suid-Afrikaners daagliks tussen hulle tande skoon, en sowat 40% van dié wat dit wel doen, doen dit nie reg nie.

Sy sê die hoofredes is dat die meeste mense eenvoudig nie verstaan hoe belangrik dit is om tussen die tande skoon te maak nie, of hoe om dit korrek te doen nie.

Tydens Nasionale Mondgesondheidsmaand hierdie September deel ons advies van kundiges oor hoe om daardie “gaping te vat” en beter mondsorggewoontes aan te leer.

Wanneer jy die voordele van skoonmaak tussen die tande verstaan, kan dit jou motiveer om dit ʼn daaglikse gewoonte te maak. Navorsing het getoon dié voordele sluit in gesonder tandvleis, ʼn varser asem, minder tandbederf en selfs ʼn langer lewe.

Lamprecht sê professionele tandheelkundiges kan baie duidelik sien as hulle pasiënte nie gereeld vlos nie.

“Gaatjies begin gewoonlik tussen die tande. Die opbou van plaak irriteer ook die tandvleis, wat tot gingivitis (tandvleisontsteking) en uiteindelik beenverlies kan lei.”

Volgens die kenners maak dit nie saak wanneer jy tussen jou tande skoonmaak nie, die belangrike is om dit elke dag, soggens of saans, te doen. Kies die tyd wat jou die beste pas en hou elke dag daarby. Met die korrekte gereedskap behoort dit net ʼn minuut of twee te neem.

Borsel of vlos eerste? Daaroor word nog verskil. In ʼn opname onder Suid-Afrikaanse professionele tandheelkundiges was daar eenstemmigheid daaroor dat pasiënte daagliks tussen hulle tande moet skoonmaak, maar sowat die helfte het gesê borsel eerste en die ander helfte vlos eerste. Dirna Grobbelaar, Ivohealth se raadgewer oor mondhigiëne, beveel aan dat eerste gevlos word.

“Wanneer jy vlos voor jy borsel, sal jy die bewyse van wat jy verwyder sien en ruik, en dit sal jou aanmoedig om dit ʼn daaglikse gewoonte te maak.”

Tradisionele garingvlos is ʼn gewilde en doeltreffende manier om tussen die tande skoon te maak as dit korrek gebruik word. Volgens kundiges skiet die meeste mense se vlostegniek tekort. As jy sukkel om te vlos, moenie moedeloos raak nie.

Daar is deesdae ʼn groot verskeidenheid interdentale toestelle by tandartse, apteke en selfs jou plaaslike supermark beskikbaar. Dit sluit in vlos (tradisionele garingvlos of vlos op handvatsels), interdentale borsels, interdentale tandestokkies en mondsproeiers, wat water of lug onder hoë druk gebruik.

Agt stappe tot perfekte vlos:

  1. Neem sowat 30 cm vlos.
  2. Draai dit om jou middelvingers.
  3. Hou die vlos tussen jou duime en indeksvingers.
  4. Laat gly die vlos tussen die tande in met ʼn ligte heen-en-weer-beweging.
  5. Vou die vlos rondom die kant van die tand in ʼn C-vorm.
  6. Laat gly die vlos op en af teen die tand en net onder die tandvleislyn in.
  7. Herhaal by die tand langsaan.
  8. Trek uit en herhaal met ʼn skoon deel van die vlos.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button