Kruisman loop in Heidelberg

Karel de Winnaar, die "kruisman" met sy kruis gemerk 'Jesus het u lief'' is onlangs in Heidelberg opgemerk. HERAUT het De Winnaar langs die pad gaan soek en meer uitgevind oor sy staproete en motivering om duisende kilometers per voet af te lê.

“Nadat ek in Desember 2017 my hart vir die Here gegee het, het ek opdrag ontvang om uit te gaan en Sy woord te versprei,” het hy gesê.

De Winnaar (40) is geskei en het ‘n dogter van ses in Mpumalanga waar hy woonagtig is. Hy het sy werk as nutsman opgegee om sy opdrag van God te gehoorsaam en het op 18 Julie sy tuisdorp Komatipoort te voet verlaat.

“My missie is om van Komatipoort tot in Kaapstad te stap om mense van Jesus te vertel en my getuienis te deel. Ek fokus op straatbediening en bemoedig veral haweloses. Mense stop langs die pad en gee vir my water, kos, donasies en bied selfs slaapplek aan.

Ek deel donasies wat ek kry met haweloses. Ek glo jou vlees moet eers gevoed word voordat ek jou geestelik kan bedien,” vertel de Winnaar. Met sy kruis en ‘n rugsak gemerk ‘Walking for Jesus Komatipoort to Cape Town’, beoog De Winnaar om meer as ‘n duisend kilometers te stap met die doel om siele vir die Here te wen.

De Winnaar met sy rugsak en kruis stap duisende kilometers te voet om mense van Jesus te vertel.

“Die Here stuur mense oor my pad. ‘n Motoris het onlangs op die N12 roete by my gestop. Dit was ‘n boer wat met oë vol trane my vertel het dat hy selfmoord wou pleeg daai dag en het die Here vir ‘n teken gevra.

Hy het geglo om my op die pad te sien stap met die kruis wat sê ‘Jesus het jou lief’, was die teken waarna hy gesoek het. Ons het saam gebid en weer vertrek,” het De Winnaar vertel.

HERAUT het op 2 September De Winnaar telefonies gekontak en hy het bevestig dat hy in Potchefstroom was. Om die kruisman se reis te volg, kan hy onder ‘Faithwalk to Cape Town’ en ‘Walking for Jesus’ op sosiale media gekry word.

De Winnaar kan by 079 590 0980 geskakel word

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version