Local newsNews

Hoofdogters spreek hul misnoë uit oor 2020

Die Herald het met die hoofdogters van Hoërskool Die Anker en die Hoërskool Stoffberg gesels.

’n Opgewonde matriekklas van 2020 het aan die begin van die jaar by hul onderskeie skole aangemeld om die belangrikste skooljaar van hul skoolloopbaan te voltooi.

Daar het groot uitdagings gewag en daar sou talle gebeurtenisse en hoogtepunte wees om na uit te sien.

Aan die einde van Maart het meeste van hierdie uitdagings en hoogtepunte by die venster uitgevlieg toe Covid-19 aan die voordeur kom klop het.

Die Herald het met die hoofdogters van Hoërskool Die Anker en die Hoërskool Stoffberg gesels oor die holderstebolder jaar waarvan hulle noodgedwonge die beste moes maak.

Kayla Borman, hoofdogter van die Hoërskool Stoffberg, het erken dat die jaar vir haar baie traumaties was omdat sy baie daarna uitgesien het om haar rol as hoofdogter van haar skool te vervul.

“Dit was moeilik, maar ek het positief gebly deur die bystand van my gesin, familie en vriende,” het sy gesê.

Kayla, wat vir haar skool se eerste hokkiespan sou uitdraf, het dit misgeloop, maar die feit dat daar vanjaar ook nie ’n revue was nie het ’n bitter smaak gelaat.

Sy was die afgelope paar jaar ’n hoofsanger in die skool revue en het baie uitgesien na vanjaar se produksie.

“Dit was een van die moeilikste dinge om te aanvaar. Ons het gedink dat alles sou regkom en ons tog ons laaste revue sou hê, maar dinge het nie so uitgewerk nie. Ek is steeds trots om te kan sê dat ek vyf jaar deel van Stoffberg se revue was,” het Kayla gesê.

’n Groot terugslag vir elke matrikulant, veral die meisies, is die feit dat daar vanjaar nie matriekafskeid gehou gaan word nie.

“Dit is tog iets waarna elke matrikulant uitsien. Ek het daarvan gedroom vandat ek klein was en het baie uitgesien na die afskeid. Eerstens om my skoolloopbaan af te sluit saam met my vriende, maar ook vir die mooi herinneringe wat mens altyd van jou matriekafskeid sal hê,” het Kayla gesê.

Tog sê sy dat 2020 steeds vir haar ’n opwindende jaar was ten spyte van Covid-19.

“Ek het die voorreg gehad om saam met Brendan Peyper in sy nuwe musiek video, Vasdanslyf, te speel. Ek het ook Sonlig Fotografie saam met Darren Wagg begin en so kan ek my passie vir fotografie uitleef.

“Ek is ook genader deur Finesse Meisie om ’n mede-redakteur te word van hulle tydskrif en ek sien verskriklik uit daarna,” het Kayla gesê.

“Wat ek wel geleer het gedurende hierdie jaar is dat mens nooit die lewe vanselfsprekend moet aanvaar nie en dat jy elke dag voluit moet lewe.”

Oor die impak wat 2020 om die matriekuitslae gaan hê het Kayla gesê sy glo die matrieks van 2020 sal steeds goed kan presteer.

“Ons het tyd gehad om selfstudie te doen en te leer. Ek hou vas aan my gunsteling teksvers Filippense 4:13 dat jy tot alles in staat is deur Christus wat jou die krag gee,” het Kayla gesê.

Kayla het elke matrikulant wat in die proses is om hul laaste eksamens te skryf sterkte toegewens.

Gabriella (Gabi) Cameron, hoofmeisie van Hoërskool Die Anker, spreek haarself sterk uit oor 2020.

Gabi Cameron.

“Covid-19 het ons kom beroof van ’n laaste jaar op skool, met ideale en drome wat aan skerwe lê en ’n beste vriend is van ons af weggeruk deur ’n ongeluk (met verwysing na mede-matrikulant Damian Gruen wat in ’n ongeluk gesterf het), maar dit kon nie ons menswees steel nie,” het sy gesê.

“Ek het myself deur gebed gewend vir vertroosting en beskerming. Ek het positief gebly en my oë gerig gehou op ons Skepper vir genade,” het sy gesê.

“Die sterkste mense in die lewe is nie die wat wen nie, maar wat nooit opgee as hulle verloor nie.”

Gabi sê die dinge wat sy die meeste gemis het is die saamwees van haar vriende, die klas, die onderwysers, die sport asook die kultuur aangeleenthede.

“My jaar het begin met ’n kalender wat so vol gepak was dat ek self nie eens seker was hoe ek deur al my aktiwiteite sou kom nie.

“Ek het die jaar begin as die heersende Mej Springs waar ek gereeld liefdadigheidswerk gedoen het vir minderbevoorregte gesinne en die DBV.

“Ek het gedurende die grendeltyd my liefdadigheidswerk volgehou deur klere en kos uit te deel by plakkerskampe en die DBV ondersteun met komberse en kos.

“In Februarie was ek in New York gewees waar ek aan die New York Fashion Week deelgeneem het. Dit was een van my hoogtepunt hierdie jaar gewees.

“Toe ek terugkeer was dit die netbalseisoen waarna ek baie uitgesien het, maar ongelukkig kon dit ook nie voortgegaan het nie.

“2020 is immers die jaar wat niemand ooit sal vergeet nie. Ons was die klas van 2020 en die jaar het so goed geklink en dit het goed begin.

“Ek was al kwaad, ek was al bang, ek was onseker en hartseer. Tog so tussendeur al die emosies het ons as matrikulante besef dat ons net ons beste sal moet gee deur ons kant te bring.

“Die onderwysers het regtig baie hard gewerk om ons by te staan en dit sal ons help om ons jaar op ’n positiewe noot te eindig.”

Gabi het gesê dat dit hartverskeurend is dat daar geen matriekafskeid vanjaar gaan wees nie.

Verder glo sy dat die matriekuitslae van 2020 wipplank gaan ry.

“Nie almal is dieselfde nie en nie almal kan stres hanteer nie. Covid-19 hang nog steeds soos ’n swaard oor ons koppe,” het sy gesê.

Haar raad aan al die matrikulante van 2020 is: “Sit alles in en lewe net jou beste. Buig jou hoof en vra God om saam met jou te wees deur hierdie eksamen.

“Dan sal jy ’n unieke, dapper matrikulant van 2020 wees. Sterkte met die eksamens.”

Related Articles

Back to top button