Legende vier sy 82ste

Een van die dorp se legendes, Ed de la Harpe het op 1 September sy 82ste verjaarsdag gevier. De la Harpe woon die afgelope twee jaar by Suikerbosoord Tuiste vir Bejaardes.

Die fenomenale man is in 1938 in Maraisstraat gebore. Hy het sy laerskoolloopbaan by Laer Volkskool voltooi waarna hy by Hoër Volkskool matrikuleer het.
Hy het sy tersiêre kwalifikasies by die Heidelbergse Onderwyskollege (BA T.HOD) en die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) behaal.
Oud leerders van laer-en-hoër-Volkskool het deur De la Harpe se klaskamer gegaan waar hy altesaam vir 36 jaar skool gehou het. Hy is gedurende hierdie tyd van departementshoof: Engels tot adjunkhoof van Hoër Volkskool bevorder.
“My pa was ‘n polisieman en my ma ‘n onderwyseres. Ek het van kleins af my liefde vir onderwys en lees by my ma gekweek. Behalwe vir die kennis wat mens opdoen deur te lees, is dit ook ‘n lekker stokperdjie,” vertel De la Harpe wat veral spanning-en speurverhale geniet.

Ed de la Harpe het op 1 September sy 82ste verjaarsdag gevier.


De la Harpe het ‘n sterk Christelike uitkyk op die lewe en dien vir meer as 40 jaar op die Klipkerk se kerkraad. Hy het ook ‘n liefde vir klassieke musiek, veral opera en glo aan ‘n gestruktureerde daaglikse roetine. Wanneer hy hom nie verdiep in ‘n boek nie, ry hy graag in sy eie motor dorp toe om inkopies te doen.
“Ek het vanjaar my verjaardag stil gevier en was net bly om weer mense te sien nadat die Covid-19 inperkings verlaag het,” het De la Harpe afgesluit.

Exit mobile version