Meester-begeleier slaan direkteurspos by Drakensberg Seunskool los

Die talentvolle en vindingryke musiekbegeleier Vaughan van Zyl is onlangs as direkteur van musiek by die Drakensberg Seunskoorskool aangestel en neem in Januarie 2021 die leisels by sy mentor en leermeester, Christian Ashley-Botha oor.

Van Zyl is ‘n oud-Volkie wat sy laerskoolloopbaan by Laer Volkskool afgeskop het, voordat hy vir vier jaar by die Drakensberg Seunsskool onderrig ontvang het. Hy het in 1988 as hoofseun by Hoër Volkskool matrikuleer en gedurende sy nasionale diensplig was hy ook lid en dirigent van die Suid Afrikaanse Weermag Kerkkoor en Konsertgroep (bekend as die Kanaries).

Van Zyl was die eerste persoon wat as studentkoormeester aangestel was by die Drakensberg Seunskoorskool en het later ‘n permanente pos as begeleier beklee. Van die werk wat hy gedurende sy loopbaan begelei het, is ondermeer “Handel’s Messiah”, Bach se “St John’s Passion”, Leonard Bernstein se “Chichester Psalms”, die “Mozart Requiem” en Carl Orff se “Carmina Burana”.

Sy eerste aanstelling as voltydse koormeester en dirigent was by die Drakensberg Seunskoorskool en Van Zyl het met die Drakensberg Seunskoor vir verskeie bekendes soos voormalige president Nelson Mandela, Prins Edward van Engeland en Pous John Paul II van die Vatikaan opgetree. Hy het ook as begeleier en dirigent, onderskeidelik, met die Drakensberg Seunskoor, Laerskool Helderkruin Kinderkoor, Laerskool Anton van Wouw Kinderkoor, Hoërskool Florida se Con Spirito koor en Imilonji KaNtu Choral Society konserttoere na verskeie internasionale lande onderneem.

Sy uiteenlopende musiekkennis is duidelik in die feit dat hy ook, onder andere, die “Hamshire Youth Orchestra” van Engeland, die Johannesburg Filharmoniese orkes en die Natal Filharmoniese orkes in konsert gedirigeer het. Vaughan het ondervinding in verskeie areas van musiek: opera, koorafrigting, sang, begeleiding en musiekteater. Hy was vir sewe jaar lank die musikale direkteur van die Universiteit van Johannesburg se “Song and Dance Company” en ook die afrigter van die Black Tie Ensemble – ‘n groep wat deur Mimi Coertse en Neels Hansen vir opera sangers in Pretoria gestig is.

Verder was Van Zyl direkteur van musiek by die “St Peter’s School of Music”, wat bestaan het uit die musiekdepartemente van die St Peter’s Boys en Girls Prep skole en St Peter’s College in Sunninghill Johannesburg.

Hy was ook vir drie jaar mede-aanbieder van kykNET se Sakkie Langarm reeks wat ‘n boersemusiek en langarmmusiekkompitiese was wat Saterdae aande regstreeks uitgesaai was.

Van Zyl rig tans Hoër Volkskool se Orpheum koor, Hoërskool Florida se Con Spirito koor, St Peter’s College se koor en Laerskool Anton van Wouw se kinderkoor af. Hy is ook die orrelis by die NG Gemeente Suikerbosrand.

Exit mobile version