NewsSchools

Sake verloop glad by Nigel se skole

Die terugkeer van duisende leerders op 24 Augustus nadat skole opnuut vir 'n maand lank weens die Covid-19 pandemie gesluit het, het positiewe reaksies onder plaaslike ouers, onderwysers asook leerders uitgelok.

HERAUT het ‘n aantal plaaslike skole besoek waar dit duidelik is dat die Covid-19 protokol streng gevolg word. By elke skool word leerders se hande, klere en tasse gesaniteer, daarna word siftingstoetse (neem van temperatuur ens) uitgevoer, alvorens hulle ingeteken word. Klasse is herverdeel sodat daar aan die sosiale distansiëringsvereistes voldoen kan word en leerders word deurentyd aan voorkomingsmaatreëls herinner om hul eie sowel as hul medeleerders en onderwysers se veiligheid te verseker.

Madele van Vuuren (hoof van Laerskool Hannes Visagie) het genoem dat sosiale distansiëring tot gevolg het dat kinders by skole nie meer geboelie word nie en sy het opgemerk dat leerders die reëls en regulasies met gemak nakom.

Mnr Bennie Holm’ner (hoof van Laerskool Tini Vorster) het ouers verseker dat daar in die beste belang van leerders opgetree word en dat klasse so opgedeel en bestuur word dat leerders nie nodig het om te wissel nie.
Ouers word nie op die skoolterreine toegelaat nie en volgens Theo Lombaard (ouer) is hy beïndruk met Laerskool Tini Vorster se toepassing van die protokol.

“My seuns is in Graad 2 en Graad 5 onderskeidelik en hulle is gelukkig en tevrede om elke dag skool toe te gaan. Hulle kla nooit en sien daarna uit om die skoolhekke te betree, waar hulle in ‘n bekende en veilige omgewing onderrig ontvang,” het hy gesê.

“Ek is nie bang nie en dit is vir my lekker om elke dag skool toe te kom. Ek reinig my hande en dra my masker, maar partykeer nies ek net baie,” het Ivané van Deventer, ‘n Graad 1-leerder by Laerskool Hannes Visagie gesê.

Sommige skole regoor die land het aanvanklik kommer uitgespreek oor hul gereedheid om te heropen weens ‘n gebrek aan aflewering van die voorgeskrewe persoonlike beskermingstoerusting (PPE), terwyl ander skole leerders met ope arms verwelkom het.

Angie Motshekga (minister van basiese onderwys) het bevestig dat die departement steeds in vlak 2 van inperking talle Covid-19 verwante uitdagings in die gesig staar en gevolglik nie kan bekostig dat alle leerders op dieselfde tyd na skole terugkeer nie. Daar is voorgestel dat skole ‘n kreatiewe benadering volg wat klaskamerbestuur en roosters betref, om seker te maak dat die nodige reëls oor sosiale disansiëring gevolg word en dat verskillende grade op verskillende dae van die week skool toe gaan.

Related Articles

Back to top button