Vonkelvrou groet finaal

Vir familie, die plaaslike gemeenskap en veral onderwysers en kollegas by Laerskool Tini Vorster in Nigel is Elsie Delport (70) se afsterwe op 20 Augustus na 'n lang siekbed, 'n enorme verlies.

Eens benoem as HERAUT se Vonkelvrou van die Jaar, het Elsie haar plek in die gemeenskap en veral in die harte van leerders volgestaan. Sy was vir 44 jaar by Laerskool Tini Vorster betrokke waar sy ‘n voorslag Wiskunde onderwyser was, maar sy word veral onthou vir haar toewyding aan die skool se voedingskema en klerebank. Die gawe van barmhartigheid het sterk deur haar are gevloei.

Elsie is op 15 Mei 1950 in die Nigel distrik gebore waar sy grootgeword en skoolgegaan het. Na die afsterwe van haar man Wessel (Bob) in 1990 het sy die rol as enkelouer oorgeneem en as en ma van twee seuns en ‘n dogter het sy die lewe se uitdagings met groot waagmoed aangepak.

Volgens haar dogter Heidi was Elsie ‘n streng, dog liefdevolle vrou wat geweldig baie vir ander mense omgegee het. Daarvan getuig haar betrokkenheid by die skool se voedingskema en behoeftige gesinne.

“Sy het naweke opgeoffer om huisbesoeke aan gesinne te doen. Sy het sakke vol klere in haar motorhuis sorteer en dit kwartaalliks op ‘n Saterdag uitgedeel. Sy was altyd hulpvaardig, vriendelik en hardwerkend – ‘n vrou wat agter die skerms gewerk het,” het Heidi haar ma beskryf.

Kollegas soos Hettie Botha het in ‘n spesiale huldeblyk gesê Elsie was ‘n “vredemaker met hope geduld.” Wanneer Elsie se woorde min was, het haar groot, bruin oë die praatwerk gedoen en dit is ook hoe leerders haar onthou.

Elsie se lewenssiklus op aarde is voltooi en vriende en familie het tydens ‘n intieme begrafnisdiens wat op 26 Augustus by die Hervormde Kerk Nigel plaasgevind het, finaal afskeid geneem. Sy laat haar kinders en drie kleinkinders agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version