NewsSchools

Matriekeksamen skop in November af

Angie Motshekga (minister van onderwys) het op 12 Augustus aangekondig dat die gekombineerde Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) eksamen vir matriek op 5 November afskop. Die laaste vraestel sal op 15 Desember geskryf word.

Motshekga het vroeër die jaar bekendgemaak dat matrieks wat vanjaar die hereksamen (in Mei en Junie) sou skryf, nou saam met vanjaar se Graad 12-leerders die eindeksamen in November gaan aflê. Volgens die departement sal dié gekombineerde matriekeksamen later as gewoonlik geskryf word, om skole en leerders genoeg tyd te gee om die volledige kurrikulum af te handel en ook om te verseker dat daar voldoende tyd toegeken word vir hersiening van die leerplan.

Skole regoor die land was weens die Covid-19 pandemie vir groot gedeeltes van die jaar gesluit en talle skooldae het verlore gegaan.
Volgens die departement sal meer as 1,1 miljoen leerders die gekombineerde matriekeksamen vanjaar aflê. Die registrasieproses vir die gekombineerde matriekeksamen het reeds gesluit.

Die departement het verder gesê dat leerders wie se besigheidstudies- en rekeningkunde vraestelle oorspronklik vir Oktober en November geskeduleer was, sal twee vraestelle van elke vak in die gekombineerde eksamen sal skryf. Leerders wat besigheidstudies- en rekeningkunde vraestelle in die hereksamen sou skryf, sal een vraestel vir elke vak in die gekombineerde eksamen aflê.

Lewensoriëntering (LO) se algemene assesseringstaak word op 19 Oktober geskryf. Die praktiese eksamen in rekenaartoepassingstegnologie (RTT) en inligtingstegnologie (IT), sal onder toesig op 21 en 22 Oktober onderskeidelik geskryf word.

Die uitslae van die matriekeksamen word op 23 Februarie bekendgemaak en volgens die departement sal dié laat bekendmaking nie matriekleerders se toelating tot hoëronderwys-vrystellings benadeel of beïnvloed nie. Motshekga het matriekleerders verseker dat hulle volle ondersteuning met voorbereiding vir die eksamen sal ontang.

Related Articles

Back to top button