Local newsNews

ATKV Heidelberg voorsitter herstel na Covid

Francois Furstenburg (voorsitter van ATKV Heidelberg) het vertel van sy siekbed en pad na herstel nadat hy met Covid-19 gediagnoseer was.

Furstenburg het middel Julie met verkoue simptome begin siek voel. Toe hy teen 21 Julie aanhoudend hoes en sy bors toegetrek het, het hy die dokter besoek waarna hy positief vir Covid-19 getoets het en in Suikerbosrand Life Hospitaal opgeneem is. “Ek was vir ses dae in die hospitaal waar ek suurstof en binne-aar voeding ontvang het. ‘n Aparte saal in die hospitaal is vir Covid-19 pasiënte geallokeer waar elkeen om die beurt suurstof ontvang het.
Personeel by die hospitaal word daagliks aan die virus blootgestel maar het steeds elke pasiënt met liefde en geduld versorg. As jy tussen ander Covid-19 pasiënte lê met ‘n onsekerheid of jy weer jou geliefdes gaan sien, besef jy die erns van die virus. Dit laat jou die kosbaarheid van die lewe waardeer en bring jou weer nader aan jou Skepper,” het Furstenburg vertel.

Furstenburg sterk nou by sy huis aan en moes op dokter instruksies vir nog drie weke in isolasie bly. “Ek het geen idee waar ek die virus gekry het nie. Ek word nou deur my vrou, Anelia, wat die beste verpleegster is, versorg,” het hy vertel.
Anelia is gesond en het nog nie die virus opgedoen nie. Furstenburg was intussen op 18 Augustus by die dokter vir ‘n opvolg besoek en toetse het bevestig dat hy nou gesond is.

“Ek is baie dankbaar vir die goeie versorging deur die personeel by die hospitaal, vir almal se boodskappe van beterskap en ook vir al ons familie en vriende wat kospakkies en inkopies namens ons gedoen het,” het Furstenburg afgesluit.

Alle ATKV aktiwiteite vir die jaar is voorlopig afgestel. Daar word egter ‘n vergadering vir September beplan sodat aktiwiteite vir 2021 bespreek kan word. Skakel Francois by 083 227 1522 vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button