Kommer groei oor onwettige storting in Nigel

Onwettige storting van huishoudelike- en tuinafval is besig om toe te neem en dié gewoonte bly onverklaarbaar, aangesien City of Ekurhuleni (CoE) se munisipale vullisverwyderingsdiens weekliks in alle uitbreidings beskikbaar is.

Boonop wil dit voorkom of die gratis stortingsterrein net buite die dorp, blatant geïgnoreer word omdat rommelstrooi en roofstort dalk vir menige inwoner ‘n aanvaarbare tydverdryf is.
Enige iets van huishoudelike gemors, bourommel, tuinafval en selfs dooie troeteldiere word sommer op die kanaalwal in Kerkstraat, langs die pad op die ou Heidelbergweg (agter The Angelo Mall) en vir kilometers langs die Blesbokspruit in die veld gestort. Bykans enige plek waar van die pad afgetrek kan word na ‘n oop stuk veld, word vir onwettige storting aangewend. Hoewel onooglik en onhigiënies, is dié onwettige storting nie ‘n nuwe brandpunt nie. HERAUT het oor die jare verskeie berigte geplaas waar raadslede, inwoners en besigheiddeienaars hul kommer hieroor uitspreek.
Tog hou lede van die publiek aan om afval te stort in bykans enige plek. Hierdie storting lei uiteindelik tot besoedeling en oorstromings tydens swaer reën en is ‘n gesondheidsrisiko vir huishoudings en besighede in die omgewing omdat dit peste en plae lok.
Bekommerde inwoners soos Lazarus Botha sê dit grief hom om te sien hoe die buitewyke van ‘n mooi dorp soos Nigel deur sy eie inwoners bemors word. Hy het die plaaslike departement van gesondheid by meer as een geleentheid van foto’s voorsien en oor die probleem gekla, maar voel sy klagtes val op dowe ore.
Volgens Wollaston Labuschagne (DA raadslid) behoort inwoners (oortreders) verantwoordelik gehou te word vir hulle aksies.
“As ons almal saamwerk kan ons die area skoon, veilig en gesond hou. Wanneer jy op iemand afkom wat onwettig vullis stort, moet jy foto’s neem en ‘n verklaring skryf met die dag, datum en die nommerplaat van die voertuig, asook ‘n beskrywing van die motor wat betrokke was by die onwettige storting,” het Labuschagne gesê en inwoners aangeraai om dié foto’s as bewys vir Ina van Gerwe (gesondheidsdepartement) te stuur, of haar by 011 999 6663 te skakel.
Nigel Metropolisie het inwoners ook gewaarsku dat oortreders wat gevang word vir onwettige storting, swaar boetes opgelê sal word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version