Local newsNews

Koue/geen water bejaardes se lot

HERAUT het op 19 Augustus ondersoek by Burt Jooste munisipale woonstelle in Visagiepark ingestel, nadat inwoners oor die vervalle toestand van die wooneenhede, asook gebrekkige instandhouding deur City of Ekurhuleni (CoE) se behuisingsdepartement gekla het.

Wollaston Labuschagne (DA raadslid) het die besoek meegemaak sodat hy druk op die betrokke departement kan uitvoer om op die klagtes te reageer.
Dié raadsbeheerde woonkompleks wat volgens inligting in die 1970s gebou is, beskik oor 26 eenhede wat bekostigbare akkommodasie aan persone wat vir ouderdomspensioen van die regering kwalifiseer, verskaf. Soos dit deur die huurooreenkoms bepaal word, is CoE verantwoordelik vir strukturele instandhouding maar tydens HERAUT se besoek was dit duidelik dat inwoners aan hul eie genade en beursies oorgelaat word.

Die lys van klagtes is lank en wissel van daklekke tot afskilfering van mure weens vog en gebarste warmwatertoestelpype (geyser). Talle inwoners soos Annalene Maree in woonstel 19 is sedert Julie sonder water, nadat haar warmwatertoestel opgepak het. Ten tye daarvan was sy uitstedig aangesien haar man ernstig siek is en in ‘n ander dorp gehospitaliseer word. Sy het ‘n boodskap van haar buurvrou ontvang dat haar woonstel ‘onder water’ is, nadat ‘n pyp gebars het. By haar tuiskoms het sy die gebarste waterpyp dadelik aangemeld, maar meer as ‘n maand later wag sy steeds vir kontrakteurs verbonde aan CoE om die warmwaterstelsel te herstel of vervang.

“Noem my sommer die waterdraer,” het sy tydens HERAUT se besoek gesê waar sy besig was om houers vol water wat sy by haar buurvrou se kraan tap, na haar woonstel aan te dra.

Mev Uri wat vir die afgelope 18 jaar in woonstel 16 woon, is ‘n 81-jarige wat die mas alleen probeer opkom, maar dit sukkel as jy oor geen warm water beskik nie. Uri voer ‘n daaglikse styd om te bad, skottelgoed en klere te was en sy is raadop. Sy weet nie hoeveel langer sy so kan sukkel nie en boonop het sy deesdae las met haar gesondheid. Rita du Plooy woon ook alleen in woonstel 7 en benewens die feit dat sy gereeld met haar warmwaterstelsel sukkel, lek haar dak ook.

“Soos jy kan sien, hierdie is nog ou asbesdakke en daar is byna nie ‘n woonstel in die kompleks waar die dak nie lek nie,” het sy moedeloos gesê.

By woonstel 10 kla Rina Steyn ook oor ‘n foutiewe warmwatertoestel wat reeds twee en ‘n half jaar gelede by die behuisingsdepartement aangemeld is. Buite op die gras tussen die woonstelle is ‘n foutiewe watermeter wat enkeldiep in die water staan. Volgens inwoners het die pyp maande gelede al gebars, maar kort na HERAUT se besoek op 19 Augustus, het munisipale werkers glo die gebarste pyp herstel.

Mev Ascencao in woonstel 17 sukkel met vog in die mure en afskilfering van verf nadat haar warmwaterstelsel se pyp gebars het.
Inwoners kla verder dat talle van die straatligte buite werking is en sê hulle voel nie veilig in die kompleks nie, aangesien booswigte maklik toegang kry deur in bome langs die beton-omheining te klim en oor te klouter.

Labuschagne het intussen voorgestel dat inwoners ‘n interne komitee (met voorsitter, vise-voorsitter, sekretaresse en skakelpersoon) stig sodat hy vergaderings met CoE se behuisingsdepartement kan belê om die kwessies aan te spreek.

Related Articles

Back to top button