MunicipalNews

Instandhouding van Wilgerivier keerwal nóú nodig

VILLIERS - Die opeenhoping van boomstompe en ander natuurlike materiaal aan die keerwal in die Wilgerivier by Frankfort in die Mafube-plaaslike munisipaliteit (Frankfort, Tweeling, Villiers en Cornelia), mag grootskaalse watertekorte vir inwoners inhou indien daar nie nóú instandhouding plaasvind nie. 

Dit volgens Jan Oost (VF Plus-raadslid: Mafube-plaaslike munisipaliteit) wat aanvoer dat die munisipaliteit hoofsaaklik van water wat vrylik oor die keerwal loop, voorsien word. Dié water word deur middel van waterpompe na watersuiweringsaanlegte gepomp.

“Die opeenhoping van rivierafval aan die keerwal veroorsaak dat water met geweldige druk deur die keerwal spuit, wat die verbrokkeling van die bestaande infrastruktuur veroorsaak. Sou hierdie keerwal as gevolg van waterdruk verkrummel, sal water direk verby Mafube in die Vaalrivier inloop. Instandhouding van die keerwal is dus nóú nodig om volgehoue watertoevoer na die munisipaliteit te verseker,” het Oost gesê.

Hy het bygevoeg dat inwoners reeds ontneem is van enige vorm van dienslewering en dat die regeringsparty nie eers kan wag tot daar ‘n waterkrisis in die munisipaliteit ontstaan en daarna krisisbestuur wil toepas om die situasie te probeer beredder nie.

Die VF Plus het ‘n skrywe aan Moses Moremi (administrateur van Mafube) gerig om spoedige ingryping en instandhouding te versoek en volgehoue druk word op amptenare geplaas om sluimerende krisisse vroegtydig hok te slaan.

Related Articles

Back to top button