Local newsNews

Bekende orrelbouer restoureer Gereformeerde Kerk se pyporrel

Jan Elsenaar, bekende orrelbouer van Brandfort in die Vrystaat is onlangs deur die Gereformeerde Kerk Heidelberg genader vir die herstel van hul pyporrel.

Dié orrel het volgens Elsenaar nog sy oorspronklike skaapleer op die blaasbalke en het ná meer as 100 jaar se getroue diens begin verbrokkel. Dit moes vervang word, aangesien die orrel heelwat van sy klank-kapasiteit as gevolg daarvan verloor het.

“Hierdie spesifieke orrel het groot geskiedkundige waarde, omrede dit nog in sy oorspronklike vorm en meer as 100 jaar oud is. Dit is in Duitsland deur ‘n firma met die naam van Sauer gebou. Ons het ook die historiese handpomp van die orrel gerestoureer, wat beteken dit kan gespeel word selfs wanneer elekrisiteit nie beskikbaar is nie,” het Elsenaar verduidelik.

Hy en sy span het tydens die grendelgreep met herstelwerk begin en altesaam twee weke in die kerk en drie weke in hul werkswinkel spandeer om die orrel ten volle te restoureer.

Dié gebore Nederlander het op driejarige ouderdom belangstelling in orrels begin toon en op sy eie gespeel tot hy op negejarige ouderdom in Dordrecht die eerste keer met orrellesse begin het.

Elsenaar het in 1985 van Nederland na Suid-Afrika geëmigreer en sy formele orrelopleiding by professor Stefanus Zondagh in Pretoria en professor Deon Lamprecht aan die Universiteit van die Vrystaat begin. Daarna het sy vakleerlingskap as orrelbouer in Bloemfontein afgeskop en hy het dit later in Johannesburg voortgesit. Gedurende 1992 het hy na die Vrystaat teruggekeer en sy eie onderneming Protea Orrelbouers gestig. Sy vrou Jackie en een van hul vyf kinders (Marinus) het later by die besigheid betrokke geraak en deel sy pa se passie vir die beroep.

Elsenaar het die afgelope jare talle orrels vir Anglikaanse en Lutherese kerke landwyd gebou. Hy is ook verantwoordelik vir die stem en instandhouding van meer as 200 pyporrels in verskeie provinsies.

Benewens sy beroep as orrelbouer, tree Elsenaar ook as orrelraadgewer vir pyporrels regoor die land heen op en was op sy dag streeksvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging in die Vrystaat.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto. More »

Related Articles

Back to top button