Local newsNews

Ystervrou deel haar hoogte- en laagtepunte van drie jaar

Drie jaar is verby sedert Heidelberg polisiestasie geskiedenis gemaak het met die aanstelling van hul eerste vroulike stasiebevelvoerder - Kolonel Amanda Viljoen.

Sy het die leisels amptelik op 3 Julie 2017 oorgeneem en ten tye daarvan gesê dat sy uitsien om haar kennis en ervaring oor ‘n tydperk van langer as 33 jaar, by Heidelberg SAPD in te span.

Tydens haar driejaarherdenking in dié pos, het HERAUT met Kol Viljoen oor haar hoogte- en laagtepunte gesels. Hoewel sy daagliks met misdaad in alle vorme te doen kry, was dit duidelik dat die Covid-19 pandemie haar grootste uitdaging tot nou toe was.

“Ek beskou die pandemie as my loopbaan laagtepunt. Die virus het wêreldwyd al soveel menselewens geëis en dit is soms asof die publiek nie besef dat die voorgeskrewe inperkingsregulasies in hul eie belang daargestel is nie. Dat dit ‘n moeilike en onsekere tyd vir alle landsburgers is, is gewis, maar die polisie speel ‘n belangrike rol nie net in misdaadbekamping nie, maar ook in gevalle waar die reëls en regulasies soms afgedwing moet word,” het Kol Viljoen haar kommer uitgespreek.

Sy het bygevoeg dat daar gedurende die grendelgreep verskeie arrestasies landwyd uitgevoer is waar landsburgers die regulasies willens en wetens verontagsaam.

“Verder is polisielede nie immuun teen die virus nie en word ook siek. Dit beteken soms ernstige personeeltekorte by polisiestasies, wat weer ‘n negatiewe impak op misdaadbekamping het. Ons werk op die voorgrond en plaas ons lewens daagliks op die spel om toe te sien dat die krisis op ‘n verantwoordelike wyse hanteer word, maar op die einde van die dag is ons ook vatbaar en weerloos,” het sy gesê.

Hoogtepunte was daar te veel om op te noem, maar dit is veral die samewerking tussen die polisie en Heidelberg se gemeenskap wat Kol Viljoen vir jare sal koester.

“In tye van nood staan en werk die gemeenskap saam en dit is vir my prysenswaardig. Ek is elke dag dankbaar. Dankbaar vir samewerking, asook die goedheid wat daar nog in mense is.”

As uitsondering het Kol Viljoen na George Booker (snr) verwys wat die polisiestasie elke week op eie onkoste skoonmaak, maar sy het ook die onderskeie GPFs, sekuriteitsmaatskappye en self HERAUT vir hul positiewe bydrae in die stryd teen misdaad bedank.

Kol Viljoen het in ‘n spesiale boodskap aan vroue gesê: “Volhard en glo in jouself. Ongeag die posisie waarin jy jou mag bevind, wees altyd sterk en bemagtig jouself deur innerlike krag.”

Met Nasionale Vrouedag wat op 9 Augustus gevier word, bring HERAUT op ‘n inklusiewe wyse hulde aan verskeie vroue wat ‘n verskil in die plaaslike gemeenskappe maak. Hou gerus ons weeklikse uitgawes in Vrouemaand dop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto. More »

Related Articles

Back to top button