Ma van drie sterf in ongeluk

Sy was net 30 jaar oud toe 'n ongeluk op die Delmas-pad buite die dorp op 2 Julie haar lewe beëindig het, maar Elmarie de Kock het in haar leeftyd 'n blywende indruk op baie mense se lewens gemaak.

Daarvan getuig talle kollegas wat haar as ‘n vriendelike, deeglike en hardwerkende persoon beskryf het. Dié administratiewe klerk wat haar stempel sedert 2015 by Nigel SAPD (Vispol) afgedruk het, was die ma van drie jong seuns waarvan die jongste ses maande oud is.

Elmarie en haar vriend Wesley Schooling was die oggend van 2 Julie na Delmas onderweg toe die ongeluk waarin ‘n vragmotor betrokke was, plaasgevind het. Die presiese omstandighede is nie bekend nie, maar Elmarie is op die toneel dood verklaar. Die vragmotorbestuurder is kort daarna gearresteer en het op 3 Julie op ‘n klag van strafbare mansslag in Nigel Landdroshof verskyn. Die saak is tot 9 Julie uitgestel.

“Die polisiegemeenskap is in rou gedompel en die leemte wat sy agterlaat gaan nie gou gevul word nie. Sy was altyd gereed om ‘n hand na ander uit te reik en haar glimlag was aansteeklik. Sy het ‘n passie vir die lewe gehad en ek kon sien dat sy voluit leef,” het Lt Col Senzangakhona Mohale (stasiebevelvoerder van Nigel SAPD) hulde aan Elmarie gebring.

Ingevolge die Covid-19 inperkingsregulasies kan slegs familie en intieme vriende haar gedenkdiens bywoon. Besonderhede hiervan sal later bekendgemaak word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version