Ander grade se leerders tree aan vir skool

Angie Motshekga (minister van basiese onderwys) het aangekondig dat slegs Graad R-, Graad 6- en Graad 11-leerders te midde die Covid-19 pandemie op 6 Julie mag terugkeer skool toe.

Dié aankondiging volg na ‘n vergadering tussen die minister, raad van opvoeders, LUR en departementshoofde op 1 Julie.

Volgens die departement het voorleggings tydens die vergadering ‘n breë oorsig gebied van al die ontwikkelinge rakende die terugkeer van leerders en hoe die proses tot dusver verloop het. Die minister het besis dat net sekere grade se leerders mag terugkeer skool toe. Leerders wat nie op 6 Julie teruggekeer het nie, sal gedurende Julie by skole aanmeld. Die departement het gesê die heropeningsdatums word aangepas gegrond op die risiko-aangepaste strategie wat ‘n berekende poging is om alle faktore op te weeg teen die heropening van skole.

“Ons word gelei deur die stygende getal voorvalle van tros-oordrag van die virus landwyd. Ons besef skole is in gemeenskappe en leerders woon in dieselfde geraakte gemeenskappe. ‘n Versigtige balans moet gevind word,” het minister Motshekga afgesluit.

Intussen het van ons plaaslike skole aangedui dat hulle gereed is om meer leerders terug te ontvang en Laer Volkskool het toestemming van die onderwysdepartement ontvang om van die voorgestelde datums af te wyk.

Gevolglik het Laer Volkskool hul Graad R, 1-, 2-, 3-, 6- en 7-leerders terug verwelkom en sal ouers van Graad 4- en 5-leerders kennisgewing ontvang van wanneer dié leerdersterugkeer.

Laerskool Tini Vorster en Laerskool Hannes Visagie het bevestig dat hulle by die departement se voorgestelde datums hou, terwyl Laerskool AG Visser in die proses is om toestemming by die onderwysdepartement te bekom om alle grade toe te laat.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version