Covid-19 pandemie skei egpaar van Heidelberg

Die Nel-egpaar is al meer as vier maande geskei nadat die Covid-19 pandemie en inperkings van verskillende lande ingestel is, kort voor die gesin na Nieu-Seeland sou emigreer.

Herman (32) het op 3 Februarie na Nieu-Seeland vertrek, nadat hy werk by ‘n kragstasie in Nieu-Seeland bekom het. Sy vrou Moyenène (28) en hul dogters Ilané (3) en Elene (vyf maande) sou die volgende maand by hom aansluit sodra hul visum-aansoeke afgehandel was, maar hul planne is deur die pandemie in die wiele gery. Die Nieu-Seelandse regering het dié land se grense in Maart gesluit in ‘n poging om die verspreiding van die virus te bekamp en kort daarna in Maart is ‘n nasionale grendelgreep in Suid-Afrika aangekondig.

“Om na Nieu-Seeland te emigreer was een van ons drome, wat in ‘n doelwit verander het na die geboorte van ons eerste kind. Herman was gelukkig om werk daar te kry, net twee dae na sy onderhoud. Hy was vir 11 jaar lank as operateur by Eskom werksaam en ons was verheug dat ons binnekort ‘n nuwe lewe in Nieu-Seeland kon begin,” het Moyenène gesê.

Intussen het die egpaar hul huis en al hul besittings verkoop en ná die huurkontrak by die nuwe woonplek einde Februarie verstryk het, het Moyenène en die kinders tydelik by haar ouers ingetrek. Maar toe verander alles na inperkings aangekondig is en al hul planne is tot halt geroep.

Dit is maande later en Moyenène wag steeds vir nuus oor haar en die kinders se visum aansoeke, maar sy is meegedeel dat Nieu-Seeland nie tans buitelanders se werks- en verblyfvisums verwerk nie. Hulle het ‘n spesiale vergunningsaansoek ingedien met die onderneming dat hulle vir 14 dae in kwarantyn sal bly sodra hulle in Nieu-Seeland arriveer, maar wag steeds op terugvoering.

“Ons is in die duister en weet glad nie wanneer ons gaan herenig nie. Ons baba was 18 dae oud toe haar pa oorsee is. Dit is moeilik vir my en Herman. Skielik is ek ‘n enkelouer en my emosies ry wipplank – een dag is mens hoopvol en die volgende dag is jy weer in ‘n donker gat.”

Terwyl die Nel-gesin in onsekerheid gedompel is, het hulle op sosiale media by die #reunitefamiliesnz bewusmakingsveldtog aangesluit. Dié veldtog is onlangs deur Suid-Afrikaanse burgers in soortgelyke situasies van stapel gestuur in ‘n poging om gesinne wat deur die pandemie geskei is, te herenig.

“Toe ek my vrou en kinders gegroet het om ons nuwe avontuur aan te pak, het ek nie gedink dat ons vier maande later nie bymekaar sou wees nie. Nieu-Seeland is in een van die mooiste lande, daar is soveel wat ek met my vrou en kinders wil deel,” het Herman vanuit Nieu-Seeland vertel. “Foto’s en video’s regverdig nie my ervaring hier nie. My huis is vol meubels, maar die klanke van kinderstemme en voetstappe van besige lyfies kort, dit laat alles om my so leeg voel. Ek leer en sien so baie en ek is dankbaar vir elke dag, vir hierdie geleentheid , maar my hart verlang na my kinders en my vrou. Ons is tog rustig omdat ons weet ons sal eendag herenig word, al is eendag nie nou nie,” het Herman afgesluit.

Nou wag die gesin op nuus dat Moyenène en hul meisiekinders binnekort by hom kan aansluit om hul nuwe lewe saam te begin.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version