Local newsNews

Meer as 13 000 etes deur LCC in grendeltyd voorsien

Sedert die grendelstaat op 26 Maart begin het tot en met 2 Junie het Lesedi Community Centre reeds 8983 kospakkies aan gesinne in Heidelberg uitgedeel en 13 239 gekookte maaltye aan individue verskaf. Daar is ook uitgereik na baie organisasies wat om hulp gevra het. 

Lesedi Community Centre (LCC) is ‘n nie-winsgewende organisasie met geen verbintenis aan Lesedi Plaaslike Munisipaliteit nie.

Hierdie organisasie is ‘n entiteit wat totaal onafhanklik funsioneer met geen befondsing van die staat nie.

“Ons is in die bevoorregte posisie om te kan help danksy die goedhartigheid van ons gemeenskap. LCC wil elkeen help wat in nood verkeer en geen voorkeur word aan ras gegee nie. Ons werk op ‘n ‘kom eerste – kry eerste’ basis en poog om niemand met leë hande weg te wys nie,” het Jaco Kritzinger (bestuurder van LCC) gesê.

Die nood in Heidelberg is astronomies en die uitdaging groei daagliks. Waar fokus vroeër op laer inkomste groepe gemik was, het die nood nou ook middelklas inkomstegroepe begin insluit en dienste word tans in areas gelewer waar dit nooit voorheen nodig was nie. Met die winter wat hier is, is die nood vir klere en komberse ook baie groot.

Behalwe vir kospakkies wat reeds uitgedeel word, het die Suid- Afrikaanse Leërgimnasium (in Heidelberg) se bevelgroep verlede week ingespring en in persoonlike kapasiteit van die bevelgroep nagenoeg 100 kospakkies gefinansier en versprei. Capiland (Heidelberg Mall) het ook na LCC uitgereik en borg weekliks ‘n addisionele 75 kospakkies.

“Ons staan in verwondering oor die goedhartigheid van ons gemeenskap sonder wie hierdie projek ‘n nuttelose poging sou wees. Baie van ons borge verkies om anoniem te bly, maar ons weet wie hulle is. Vir hulle en elke persoon en besigheid wat hulle harte oopmaak vir ons gemeenskap, wil ons dankie sê,” het Kritzinger benadruk.

Skakel vir Jaco Kritzinger by 072 575 0081 of Lezanne Schölly by 084 854 1897 indien jy wil help of as jy hulp benodig. Enige donasies van klere of komberse sal waardeer word. LCC is op die hoek van Schuins en Breestraat, Rensburg.

Related Articles

Back to top button