Nigel VLU voorsitter praat oor vrese tydens huisroof

"Ek het een gil gegee, toe vries ek." So vertel Ronel Lombaard enkele dae na 'n gewapende roof by hul huis in Ferryvale.

Die voorval het op 15 Mei plaasgevind, kort nadat ‘n wit Audi met vier insittendes by hul woning in David Wolfstraat stilgehou het.

Dit was Vrydagmiddag en haar man Johan was omstreeks 15:00 buite besig om plaveiselstene af te spuit en die elektriese hek het effens oopgestaan waar hy besig was. Hy het ‘n voertuig voor die hek opgemerk, maar nie verder aandag daaraan geskenk nie, tot drie mans skielik op hom afgestorm het.

Ronel onthou dat Johan haar met ‘n vreemde klank in sy stem geroep het. Sy het kombuisdeur toe geloop om ondersoek in te stel, toe sy haar in die rowers (wie se gesigte met maskers bedek was) vasgeloop het. Toe sy die vuurwapen teen Johan se kop sien, het sy kombuis toe gehardloop en geskree.

Die idee was om haar bejaarde moeder Dolfien Barnard te waarsku, maar die woorde het in haar keel gestol en ‘n lamheid het haar oorval.

“Ek was nog nooit in my lewe so bang nie. Ek kan die gevoel nie beskryf nie. My ma het in die kombuis verskyn, gesien wat gebeur en kamer toe gehardloop waar sy agter die bed gaan lê het.”

Die rowers het vir Ronel gevra met wie sy gepraat het en of sy die paniekknoppie gedruk het. Sy was angsbevange en het net haar kop geskud, waarop Johan beveel is om hulle na die kluis te neem en die sleutels te oorhandig. Terwyl hulle deur die huis beweeg het, moes Ronel saam met een van die rowers agterbly.

Hy het deurentyd ‘n vuurwapen op haar gerig terwyl sy biddend op haar knieë was, maar dit was op die kombuisvloer waar die sterk voorsittersvrou (sy is Nigel VLU se voorsitter) in haar na vore gekom het. Met groot kalmte het sy opgestaan, kamer toe geloop waar die ander nog besig was om kaste en laaie te deursoek en het van haar juwele aan hulle uitgewys.

Die rooftog waartydens selfone, juwele, gewere en ammunisie gebuit is, was binne minute verby en was dit nie vir die opsporingsmeganismes in hul voertuie nie, was hulle dié ook kwyt.

“Een van die rowers het gevra en ek het bevestig dat ons voertuie met opsporingsmeganisme toegerus is, waarna hulle belangstelling daarin verloor het en in hul eie voertuig op die vlug geslaan het,” het Johan gesê.

Met hul selfone wat gesteel is, kon die Lombaards nie self hulp ontbied nie en het pad toe gehardloop waar ‘n buurman tot hul redding gekom het.

“Ons het groot geskrik, maar is dankbaar om te leef, dankbaar dat ons kleinkinders minute voor die rooftog huis toe geneem is en dankbaar dat ons ongedeerd is,” het die Lombaards gesê en bygevoeg dat dit belangrik is om kalm te bly tydens ‘n huisroof.

Hulle het ook die polisie vir hul vinnige optrede en bystand bedank.

Dié voorval het juis weer die belaglikheid van die verbod op buurtwagpatrollies gedurende die staat van inperking beklemtoon. Dit skep die gevoel dat kriminele vrye regte geniet, terwyl plaaslike gemeenskap polisiëring forums voor ‘n rooi lig sit en wag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version