Local newsNews

Ekurhuleni-metroraad tree ongrondwetlik op, sê VF Plus

Die VF Plus het die Ekurhuleni-metroraad gemaan om gehoor te gee aan die Rampbestuurswet en om nie alle uitvoerende magte gedurende die staat van inperking aan die stadsbestuurder en burgemeester oor te dra nie.

Dit volgens ‘n mediaverklaring deur Jennifer Glover (VF Plus-raadslid: Ekurhuleni-metroraad).

In opdrag van die speaker van Ekurhuleni, Patricia Kumalo, is raadslede in kennis gestel dat alle raadsbesluite gedurende die staat van inperking deur die stadsbestuurder in ooreenstemming met die burgemeester gemaak sal word.

“Hierdie besluit  is ʼn blatante oorskryding van magte en kan nie geduld word nie,” het Glover gesê.

Die party het in ʼn amptelike skrywe aan Kumalo, die burgemeester, Mzwandile Masina en die munisipale stadsbestuurder, Dr. Imogen Mashazi, gewaarsku dat die besluitneming ʼn oorskryding van die Rampbestuurswet is asook van die gepubliseerde direktiewe rakende munisipale-bestuur wat die minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), Nkosazana Dlamini-Zuma, uitgevaardig het.

Die VF Plus het die burgemeester versoek om die gewysigde direktiewe wat minister Dlamini-Zuma uitgevaardig het te bestudeer en daarvolgens op te tree.

Die wysiging maak dit duidelik dat raadsaangeleenthede na die raad vir bespreking verwys moet word. Die munisipaliteit moet voorsiening daarvoor maak dat raadsvergaderings per virtuele platvorms kan geskied.

“Aangeleenthede rakende Covid-19-verwante aangeleenthede kan sonder die stadsraad se insette deur die stadsbestuurder, burgemeester en speaker behandel word,” het Glover afgesluit.

Die VF Plus sê hy kan nie toelaat dat eensydige besluite gedurende die inperkingstydperk geneem word nie en indien daar nie gehoor gegee word aan die party se versoek nie, gaan die Gautengse provinsiale wetgewer asook minister Dlamini-Zuma dienooreenkomstig ingelig word.

Related Articles

Back to top button