Bejaarde vrou en werker op Heidelberg plaas aangeval

Buurman en werker sit rowers te midde van koeëlreën agterna.

“We are going to kill you! We know you are rich!” Dit is die woorde wat rowers geskree het terwyl hulle ‘n geweer teen die 77-jarige Patricia Selkon se kop gedruk het.
Die bejaarde vrou is hard oor die kop geslaan en vasgebind nadat twee rowers haar en Antonie Cornelius Mofokeng (plaaswerker) vanmiddag (1 Mei) op ‘n Groenfontein plaas aangeval het.

Antonie Cornelius Mofokeng (plaaswerker) se arm is beseer toe rowers hom aangeval en vasgebind het. Agter hom is die Nissan Qashqai waarin die rowers gevlug het.

 

Mofokeng (40) is eers oorval en vasgebind. Hy kon homself bevry en het gehoor hoe Patricia skree. Hy het na die huis van Pieter Lourens sowat 2km weg, gehardloop.
Terwyl hy hardloop het hy gesien hoe die rowers in Patricia se Nissan Qashqai wegjaag. Lourens en Mofokeng het die rowers op die Poortjepad in Lourens se bakkie  agternagesit. Koeëls het tussen die twee voertuie gevlieg voor die Nissan tot stilstand gekom en die rowers te voet op die vlug geslaan het.

Mofokeng het net voor 13:00 na die plaasstoor gestap toe hy merk dat die deur na ‘n klein kamer wat nooit gebruik word nie, oopstaan. Hy het ondersoek gaan instel toe mans in balaclavas hom bespring. “Hulle het my teen die grond gedruk en my hande en voete met baalkabels vasgebind,” het Mofokeng aan HERAUT gesê.
Die rowers het hom in die kamer toegesluit en is na die plaashuis. Patricia se man Theo (84) was nie tuis nie.

“Ek het gehoor hoe die honde vreeslik by die motorhuis blaf en het gaan ondersoek instel. Hier het die rowers my oorval. Hulle moes my oor die kop geslaan het, want toe ek bykom het hulle my in die huis ingesleep en vasgebind,”
het Patricia gesê.

Hulle het met kontant, ‘n selfoon en twee vuurwapens in Patricia se voertuig op die vlug geslaan. Terwyl Lourens en Mofokeng die rowers agternagesit het, het Lourens probeer om die gesteelde voertuig se bande raak te skiet. Die rowers het deur die agterruit van die Nissan op die bakkie geskiet. Een van die koeëls het deur die bakkie se voorruit
(tussen Mofokeng en Lourens) deurgegaan en die agtersitplek getref.

Foto met die vergunning van George Booker Snr.

 

“Ons was nie bang voor die koeël deur die voorruit gebars het nie. Toe het dit by my opgekom dat ons vandag dalk doodgeskiet kan word,” het Lourens vertel. Die rowers het by die vliegveld se ingang ingejaag en in die veld langs die N3 tot stilstand gekom. Hulle het uitgespring en te voet op die vlug geslaan. Die SAPD se lugvleuel en honde eenheid se hulp is ingeroep.

George Booker en plaaslike GPF-lede het aan die soektog meegedoen. Jaco Coetzer het met sy privaat vliegtuig ook aan die soektog deelgeneem. Booker en Peter Munro het die geroofde selfoon in die veld opgespoor, maar die voortvlugtendes het weggekom.

Patricia is getraumatiseer, maar nie ernstig beseer nie. Sy sê dit is die eerste maal in die 27 jaar wat hulle op die plaas woon, dat hulle aangeval is. Sy het haar dank
teenoor almal wat hulp verleen het, uitgespreek.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version