Local newsNews

Waak teen opgeblaasde eiendomswaardasies, maan TLU SA

TLU SA het 'n veldtog van stapel gestuur om kapsie teen opgeblaasde eiendomswaardasies te maak.

Munisipaliteite regoor die land is in die proses om eiendomme te inspekteer vir algemene of aanvullende waardasierolle. Die waarde van die eiendom bepaal ook die tarief wat op dienste en belasting vir die eiendom gehef word.

“Ons het verneem dat die waardasies van eiendomme op sekere plekke, veral in die landbousektor, uitermatig verhoog word. Met hierdie veldtog moedig ons alle grondeiendaars aan om kapsie aan te teken teen opgeblaasde eiendomswaardasies,” het Louis Meintjes (president van TLU SA) gesê.

TLU SA het veral daarop gewys dat dit tydens die inperking belangrik is dat mense steeds hierop ag slaan aangesien daar nie duidelikheid is of die tydperk vir appèl verleng sal word nie. Dié organisasie kan grondeienaars bystaan om waardasies na te gaan en beswaar te maak teen onakkurate waardasierolle.

DA raadslid van Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LPM) Mirna Mulder, beaam dat inwoners wat eiendom besit asook grondeienaars hul munisipale rekeninge moet nagaan om op hoogte te bly van die bedrag waarvoor hul eiendom waardeer is. ‘n Vorm word saam met die rekening waarop die waardasie verskyn gestuur. Indien jy nie met die waardasie saamstem nie, moet jy dit op die vorm aandui en aan LPM stuur,” het sy gemaan.

Willie le Roux (inwoner van Jameson Park) besit verskeie eiendomme wat hy verhuur en het tot sy skok gesien dat die waardasies uitermatig verhoog is. Een van dié eiendomme is ‘n huis in Daisystraat wat vir meer as R1 000 000 waardeer is. Nadat Le Roux beswaar aangeteken het, is dit na R400 000 verminder.

“Mense let nie op na hul waardasies op hul munisipale rekeninge nie. Party inwoners is selfs bly omdat hul eiendomme so hoog waardeer is. Hulle dink hulle sal dit teen daardie pryse kan verkoop, wat nie die geval is nie. Hulle besef nie dat hulle verhoogde erfbelasting gaan betaal nie,” het Le Roux beklemtoon.

Mulder het inwoners herinner dat hulle slegs ‘n beperkte tyd het om beswaar aan te teken. Die nuwe tariewe moet teen 1 Julie in werking tree en dus moet dit in Mei in die Staatskoerant gepubliseer word. Inwoners moet so gou moontlik hul besware indien.

TLU SA het gewaarsku dat akkurate eiendomswaardasies belangrik is omdat buitensporige verhogings tot verhoogde grondbelasting lei, wat ‘n bykomende las op eienaars plaas. Grondeienaars kan probleme op TLU SA se webtuiste by tlu.co.za/waardasierolle aanmeld.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto. More »

Related Articles

Back to top button