Local newsNewsUpdate

Afsondering kan emosionele tyd wees

Heidelberger Lezanne Scholly gee raad.

Die 21-dae afsonderingstydperk wat deur die staatspresident afgekondig is, is ‘n emosionele tyd van kommer en onsekerheid. Lezanne Scholly (berader en maatskaplike werker) het lig gewerp op die emosionele sy wat mense in dié tydperk kan ondervind.
“Jou emosies hang baie van jou persepsie van ‘n situasie af. Die beste is om nie die hele Kovid-19 onderwerp en inperkingstydperk te oordink nie en een dag op ‘n slag te vat. Die eerste twee tot drie dae in isolasie is gewoonlik normaal. Mens is dan positief, rus lekker of doen goed waarvoor ons nie altyd tyd het nie,” het Scholly gesê.
Sy waarsku dat indien jy nie jou tyd konstruktief aanwend nie, kan jy teen dag vier redelik verveeld, gefrustreerd en geïrriteerd raak.
“Vir baie mense sal alleenheid swaar wees en daar mag vir sommiges ‘n tydperk van depressie voorlê. Die beste advies is om besig te bly. Kry vir jou ‘n gebalanseerde roetine (staan op, trek aan en doen iets konstruktief), bly in telefoniese kontak met geliefdes en vriende en bly positief.
“As julle ‘n paar mense in een huis bly, maak tyd vir mekaar maar spandeer ook genoeg tyd alleen. Vermy dinge soos aanmekaar TV kyk, want studies het bewys dat dit tot verhoogde kanse vir depressie kan ly,” het Scholly gesê.
Laastens het sy aanbeveel dat mense na professionele hulp moet uitreik wanneer dinge te veel raak. Professionele hulp is wyd beskikbaar en kan via skype of ‘n selfoon bereik word.
Indien jy graag met Scholly in aanraking wil kom, skakel haar by 084 854 1897 of stuur ‘n e-pos na lezanne@cloudshark.co.za

Related Articles

Back to top button