Local newsNews

Heidelberg betreur skielike afsterwe van oud-Volkie

Familie en vriende van Diaan Classen sukkel steeds om die skielike dood van dié lewenslustige 23-jarige te verwerk.

Diaan het op 28 Maart in ‘n skietongeluk aan huis van sy grootouers gesterf. Familielede het vroeër die aand vir oulaas saam gebraai voordat hulle die Koronavirus 21-dae afsonderingstydperk amptelik sou betree.

Volgens Diaan se ma Adele van Niekerk, was Diaan in goeie gees en almal het saam om die braaivleisvuur gekuier. Die presiese omstandighede van die skietongeluk vorm deel van ‘n polisieondersoek, maar geen gemene spel word vermoed nie

“Diaan het die aand nog gespog en gesê hy gaan binnekort vir hom ‘n motorfiets koop. Hy het toekomsplanne gehad, soos dat hy later vanjaar weer gaan jag,” het ‘n gebroke Adele gesê.

Diaan is ‘n oud-Vissie wat sy hoërskoolloopbaan by Hoër Volkskool voltooi het. Sy liefde vir sport was van ‘n jong ouderdom af duidelik en hy het later ‘n voorliefde vir jag ontwikkel.

Ná skool het Diaan by die familiebesigheid DH Landbou Chemikalië ingeval en was hy tot sy dood aktief betrokke. Hy het ook onlangs aan Ru-Zette Beeslaar verloof geraak. Vriende onthou Diaan as ‘n joviale jongman wat altyd met ‘n grappie gereed gestaan het. Hy was lief vir onthaal en het ‘n groot vriendekring gehad. Hy het ook ‘n spesiale band met sy stiefpa Dawie, sy oom Albert, sy twee neefs Ruben en Juandrey en beste vriend Etienne Bruwer gehad.
Adele het elkeen bedank wat hulle ná Diaan se dood met woorde van vertroosting bygestaan het.

“Ons is met boodskappe en oproepe oorval en dit is ‘n riem onder die hart om te weet hoe geliefd Diaan was,” het Adele gesê.

iaan se begrafnisdiens vind op 3 April om 11:00 by die Hervormde Kerk Heidelberg plaas.

Related Articles

Back to top button