Afsonderingsperiodie nie sonder uitdagings nie

Dit is Dag 4 van die Koronavirus 21-dae afsonderingsperiode en HERAUT het met Suzan Basson van Crime Stop Heidelberg oor dié uitdaging gesels.

Volgens Suzan verkeer sekuriteitsmaatskappye en SAPD-lede onder groot druk om te verseker dat Suid-Afrikaners die president se reëls en regulasies eerbiedig, aangesien dit wil voorkom of ‘n groot persentasie van die bevolking soos normaal beweeg en winkels besoek.

“Daar is steeds mense wat nie luister nie – ons sien byvoorbeeld gereeld hoe mense in supermarkte nie die aangewese meter afstand tussen hulle hou nie,” het sy gesê.

Sy het Nigel en Heidelberg inwoners aangeraai om winkels en ander noodsaaklike plekke soos apteke slegs te besoek wanneer dit stil is en nie tydens pensioenuitbetaaldae soos die volgende drie dae nie.

“Moet ook nie by jou vriende kuier nie – bly by jou huis en wanneer iemand in jou gesin ‘n winkel moet besoek, maak seker dat dit elke keer dieselfde persoon is, sodat die moontlikheid van besmetting tot een persoon beperk word,” het sy gesê.

Vir die verveliges onder dié in afsondering, het Suzan voorgestel dat hulle gesigmaskers maak.

Sy het ook die polisiediens en ander veiligheidsowerhede vir hul onbaatsugtigheid geloof.

Exit mobile version