Rioolprobleem uiteindelik opgeklaar

Rensburg-gesin worstel jare lank met stank

Rou riool wat in al die afvoerpype van hul huis in Roetsstraat, Rensburg opstoot, is ‘n walglike ding wat die Enslin-gesin nie meer kan hanteer nie.
Die gesin woon die afgelope ses jaar in dié huis en sê die probleem bestaan sedert hulle ingetrek het. Dit work blykbaar veroorsaak deur ‘n verstopte mangat in Jopie Fouriestraat. Die Enslins se huis is op die hoek van Roets- en Jopie Fouriestraat en die riool dam ook in die hoek van hul erf op. “Dit veroorsaak ‘n voortdurende stank en ek sukkel al vir maande lank met ‘n maagvirus wat ek oortuig is deur die onhigiëniese toestand by my huis veroorsaak word,” het Chantelle gesê.

Sy sê wanneer die riool in die huis opstoot, kan hulle nie bad, stort of wasbakke gebruik nie. “Ons moes al in ‘n emmer was omdat die badkamers en selfs opwasbak vol riool is,” het sy vertel.
Volgens Chantelle het hulle oor die jare die probleem sonder ophou by Lesedi Plaaslike Munisipaliteit aangemeld. Die laaste keer het die werkers gesê dat die probleem binne in die erf is en dat dit dus nie hulle werk is nie.
HERAUT het Advokaat Gugu Thimane (waarnemende munisipale bestuurder) van LPM oor die probleem genader. Sy het dit onder die aandag van die bestuurder van die betrokke departement gebring en Chantelle het laat weet dat munisipale werkers die verstopte drein die volgende dag herstel het.
“Nou kan ons weer bad en skottelgoed was. Baie dankie HERAUT dat julle ons gehelp het! Ons kla al vir jare en niks word gedoen nie. Nadat ons die probleem by HERAUT aangemeld het, is daar dadelik aandag aan geskenk,” het sy gesê.

Exit mobile version