MunicipalNewsUpdate

Jordaanpark se toegangsbeheer geveg duur voort

Munisipaliteit voor die hof gedaag.

Jordaanpark se toegangsbeheer word dalk binnekort ‘n werklikheid met Jordaanpark Forum wat die hof gaan vra dat hulle kan voortgaan sonder Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LPM) se toestemming.
Dit kom nadat LPM reeds hof toe gesleep is oor hul weiering om toestemming te verleen en verskeie ongerymdhede aan die kant van die munisipaliteit. LPM het ook versuim om ‘n hofbevel te gehoorsaam.
“Ons wil die hof vra om ‘n beslissing in Jordaanpark Forum se guns te maak dat die toegangsbeheer kan voortgaan sonder insae of toestemming van die munisipaliteit. LPM het maande gehad om te reageer en selfs ‘n hofbevel wat deur die balju op 16 Desember aan die munisipaliteit beteken is, het geen vrugte afgewerp nie. Ons wil egter steeds nie reg in eie hande neem nie en het daarom ons regslui opdrag gegee om aansoek te doen dat ons kan voortgaan sonder LPM se bydrae/toestemming,” het Dr Willem Sprong (voorsitter) van Jordaanpark Forum gesê.
Die hofbevel wat deur die Johannesburgse Hooggeregshof uitgereik is, het LPM tot 6 Maart kans gegun om ‘n vergadering met die forum te reël. Dit het nooit gebeur nie en LPM het geen poging aangewend om forumlede te kontak nie.
‘n Kostebevel is ook op die munisipaliteit beteken. Jordaanpark Forum het op 9 Maart aan hul regsverteenwoordiger opdrag gegee om voort te gaan met ‘n aansoek van minagting van die hof.
“Indien die hof beslis dat die beveiliging van die buurt sonder die munisipaliteit se toestemming mag voortgaan, kan toegangsbeheerpunte (wat valhekke in Wessels- en Uniestraat insluit) binne ‘n maand opgerig word,” het Sprong afgesluit.

Related Articles

Back to top button