Local newsNewsUpdate

Inwoners sien rooi oor voorgenome myn

Steenkoolmyn hou groot implikasies in vir Heidelberg se erfenis.

Inwoners, opposisie raadslede, grondeienaars asook ander belanghebbendes is ontstoke oor die voorgestelde steenkoolmyn wat aan weerskante van die R42 Heidelberg/Nigel-pad beoog word. Die aansoek vir die omgewing impakstudie is reeds ingedien en dit wil lyk of die nuus oor die myn stilgehou is sodat belanghebbendes nie daarteen kapsie kon maak nie.

HERAUT het op 11 Maart berig oor Mirna Mulder (DA raadslid) wat vrae oor die voorgenome myn in die Raadsvergadering van Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LPM) op 17 Februarie geopper het.
‘n Vergadering met twee LPM amptenare is ook stil gehou en Mulder het hieroor kapsie gemaak nadat ‘n inwoner per abuis op die aansoek afgekom en betrokkenes daaroor ingelig het.

Die gebied waar die beoogde myn beplan word is gedeeltes van Langlaagte (reg langs Heidelberg Begraafplaas en die Suikerbosrand Natuurreservaat) en gedeeltes van Klippoortje (reg langs Bergsig).   

Mari Boshoff (VF Plus raadslid) sê die voorgestelde myn kan groot skade aan huise, die natuurreservaat en historiese begraafplaas aanrig. “Die ontwikkeling van ‘n steenkoolmyn in dié gebied hou omvattende gevolge vir die omgewing, inwoners en infrastruktuur in. Prospektering sal ‘n negatiewe impak hê op landbou-, die Suid-Afrikaanse Leërgimnasium, die natuurreservaat, privaat wonings en paaie. Die aangrensende dorpe aan die Oos-Rand word ook deur die beplande mynbedrywighede geraak,” het Boshoff gesê.

 

Sy sê die myn wil 100m van die begraafplaas se pad met bedrywighede begin. Die begraafplaas is nie net ‘n aktiewe kerkhof nie, maar twee monumente ter herdenking aan diegene wat tydens die Anglo Boere-oorlog (tussen 1899 en 1902) in konsentrasiekampe gesterf het, is hier opgerig. Kindergrafte uit dié geskiedenis lê voor die monument vir moeders en kinders wat in die vrouekamp in Heidelberg gesterf het. Nog ‘n monument is hier in 2001 opgerig ter nagedagtenis aan veelrassige inwoners wat in Heidelberg se konsentrasiekampe omgekom het.

Die VF Plus voorsien die volgende probleme met die beplande mynontwikkeling: Die R42 tussen Heidelberg en Nigel wat ‘n enkelbaanpad is, sal nie die bykomende druk van swaarvoertuig-verkeer kan hanteer nie.

Dit sal geleë wees langs die Bergsig-woonbuurt wat ‘n bestaande skool en winkelsentrum huisves. Geraas-, lug- en waterbesoedeling sal toeneem weens die boor van prospekteergate en die gebruik van plofstof.

 

Dit is ook naby die Suikerbos-natuurreservaat en Blesbokspruit waar verskeie beskermde spesies voorkom.
Nog probleme wat deur die VF Plus voorsien word is die militêre basis langs die beplande myngebied wat deur bedrywighede geraak sal word. Die gebied maak ook deel uit van ʼn ontwikkelingsarea wat reeds geoormerk is vir die oprigting van ‘n industriële gebied en die uitbreiding van bestaande woonbuurte.

Laastens is daar grondeise op sekere gedeeltes van die beoogde myngrond ingestel wat nog nie afgehandel is nie.
“Die VF Plus sal die aansoek teenstaan om te verhinder dat die mynontwikkeling inwoners en die natuurlewe negatief beïnvloed. Die gemeenskap van die LPM munisipale gebied moet deur ‘n openbare deelname-proses geken word en hul besware moet in ag geneem word.,” het Boshoff afgesluit.

Omdat die deelnameproses nie reg hanteer is nie en reeds verstryk het, is Boshoff en Mulder besig met die proses om beswaar teen die voorgenoomde myn aan te teken. ‘n Lys van belanghebbendes word nou saamgestel en diegene wat teen die myn beswaar wil aanteken kan Mulder by 082 400 0909 of Boshoff by 072 547 0481 skakel of ‘n e-pos kan na mari@mariproperties.co.za gestuur word.

Die myn wil hierdie stuk grond reg langs die Heidelberg/Nigel-pad en Bergsig gebruik.

Related Articles

Back to top button