Local newsNewsUpdate

‘Is oom Liewe Jesus?’ vra honger seuntjie

Meals on Wheels gee kos aan honger Heidelberg siele.

‘n Enkelma met ‘n klein seuntjie sit verwese in ‘n karig gemeubileerde kamer in Rensburg. Daar is net ‘n enkelbed waarop altwee slaap, ‘n stoel waarvan die bekleedsel amper nie meer bestaan nie en ‘n ou laken voor die venster. Hulle besit omtrent niks en het dae laas geeët. Die seuntjie wil weet of die man van Meals on Wheels Liewe Jesus is, want hy en sy ma het die oggend gebid en gevra vir uitkoms.
Charl du Toit (bemarkingsbestuurder) van Meals on Wheels Heidelberg vertel van die besoek wat sy hart gebreek het. Dit is verhale soos dié wat hom dryf om met sy werk voort te gaan, ongeag die moeilike omstandighede. Hy sê daar is baie behoeftige mense in Heidelberg. “Dit is skokkend hoe mense agteruitgaan en siek word. Hul dieët is karig en nie voedsaam nie. Hulle het nie die gerief van ‘n keuse oor wat hulle kan eet nie. Vir hulle gaan dit daaroor om ‘n honger kol vol te maak. Daarom sal hulle selfs ou kos eet,” het Du Toit gesê.
Meals on Wheel is ‘n mobiele ete-kantoor en die Heidelberg-tak funksioneer vanaf Sedaven. Voedsame etes word op Dinsdae, Woensdae en Donderdae op strategiese plekke in Heidelberg Sentraal, Rensburg, Shalimar Ridge en Ratanda afgelewer.
Hy vertel dat die nood groot is en werkers van Meals on Wheels die agteruitgang voor hul oë sien afspeel. “Die gevolge is sigbaar. Ons sien hoe mense gewig verloor. Hul tande versleg en hulle is dikwels meer aggressief want die bietjie wat hulle het, word gesteel of deur boelies afgeneem. Donasies soos komberse word afgeneem en selfs verbrand,” het Du Toit vertel.
Hy het gesê dat inwoners nie meer komberse aan haweloses wil skenk nie, omdat hulle vermoed dat dit vir drank- en dwelmgeld verkoop word. Hy sê egter dat dit in die meeste gevalle nie waar is nie. “Dié mense bewaar selfs die plastieksakke wat hulle optel,” het Du Toit gesê.
Begunstigdes word deur Meals on Wheels geëvalueer om die graad van behoefte te bepaal. Tydens so ‘n besoek word ‘n kospakkie altyd saamgeneem om aan onmiddellike behoeftes te voorsien. Dit was tydens so ‘n besoek dat Du Toit op die ma en haar seun afgekom het.
Hy het op die vraag van die seun of hy Liewe Jesus is, geantwoord dat hy Jesus se hande is. “Dit was Jesus wat my na julle gestuur het omdat Hy julle liefhet,” het Du Toit aan die seun gesê.
“Jy het miskien nie die moed om so iets te doen nie of dalk is jy te besig. Daarom doen ons ‘n beroep op die gemeenskap om Meals on Wheels te ondersteun. Wees deel van die span,” het Du Toit afgesluit.
Meals on Wheels is afhanklik van skenkings en donateurs wat hulle maandeliks ondersteun. Fondsinsamelingsprojekte is ‘n belangrike metode om tekorte aan te vul wat deur stygende kostes en groeiende behoeftes veroorsaak word. Heidelberg het veral behoefte aan nie-bederfbare kos soos blikkies, gebottel, droë bestanddele soos meel, suiker en pasta asook vars groente.
Indien jy meer oor Meals on Wheels wil uitvind of ‘n skenking wil maak, kan die Heidelberg-kantoor by 016 342 0309 of Du Toit by 084 736 2582 geskakel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button