MunicipalNewsUpdate

Protesoptrede ontwrig Grootvlei/Balfour

Inwoners vir meer as week sonder krag.

Die Grootvlei gemeenskap het verlede week betoog oor elektrisiteit probleme wat hulle weer sedert 14 Februarie ondervind. Dit blyk dat daar oorlog in die kleine uitgebreek het tussen dié verbruikers wat hul kragrekeninge vereffen en dié wat hulle skuldig maak aan onwettige konneksies.

Die wetsgehoorsame inwoners voel dat hulle gestraf word omdat die kragnetwerk nie die lading kan dra sodra Dipaleseng Plaaslike Munisipaliteit (DPM) dit probeer aanskakel nie.

Die munisipaliteit het toe aangekondig dat die oorlaaide netwerk probleme veroorsaak en dat elektrisiteit beurtelings (vir 12-uur periodes) in verskillende dele van die dorp aan- en afgeskakel gaan word. Dit het die inwoners verder ontstel en volgens ‘n betroubare bron het hulle toe self in die Schoonplaas nedersetting ingevaar en begin om onwettige konneksies te verwyder. Dit het tot vuisgevegte tussen die inwoners gelei.
Van die inwoners waarmee HERAUT gepraat het, het gesê hulle neem die munisipaliteit kwalik. Dit het so erg geword dat die protesoptrede op 21 Februarie na Balfour oorgespoel het.

 

Besigheidseienaars soos Louise van Niekerk wat ‘n hondesalon in Grootvlei besit, sit met hulle hande in die hare. Hulle moet klante as gevolg van die probleem wegwys.

Werner Weber (lid van die provinsiale wetgewer) en provinsiale leier van die VF Plus in Mpumalanga het op 21 Februarie tot die stryd toegetree. Hy sê dat gereelde kragonderbrekings die inwoners van Grootvlei sowel as Balfour teister sedert ‘n transformator in Desember uitgebrand het. Dit veroorsaak onderbrekings van tot 15 dae aaneenlopend.
“Onwettige verbindings veroorsaak nou dat sommige dele weer sonder elektrisiteit moet klaarkom. Inwoners het nou vir ‘n tweede keer in drie maande duisende rande se vars produkte en elektrise toestelle weens die onderbrekings en kragstuwings verloor,” het hy gesê.
Weber voer aan dat die munisipaliteit die werklike rede vir die probleme ontken en dat hulle nie bereid is om inwoners se vrae oor die onderbrekings asook onwettige verbindings te beantwoord nie. “Die diewe probeer nie eens om onwettige verbindings weg te steek nie omdat die opvatting ontstaan dat Eskom, die polisie en munisipaliteit nie teen hulle gaan optree nie.
“Dit is onaanvaarbaar dat betalende inwoners onder sulke omstandighede gebuk moet gaan net omdat die ANC-munisipaliteit te bang is om stemme te verloor om mense te dwing om vir hul elektrisiteit te betaal,” het Weber voortgegaan.
Hy vra inwoners om eise in te dien vir die skade wat hulle weens kragonderbrekings lei. “DPM voorsien die krag via Eskom en is verantwoordelik vir uitbetalings van sulke eise,” het hy gesê.
Weber gaan nou vrae in die provinsiale wetgewer rakende die skade wat aan inwoners se eiendom aangerig is, stel en sê dat die party daarop gaan aandring dat inwoners vir hul verliese vergoed word.
DPM het op navraag van HERAUT gesê dat die 12-uur kragonderbrekings genoodsaak word om te verseker dat die beperkte elektrisiteitvoorsiening deur Eskom, deur almal gedeel word tot die situasie na normaal terugkeer. Me B Khanye (waarnemende munisipale bestuurder) het die gemeenskap gevra om geduldig te bly en begrip vir die situasie te toon.

 

Lees die nuutste inligting oor die Grootvlei situasie hier: 

Related Articles

Back to top button