Tuiste se oudste inwoner steek 100-merk verby

Susie Stassen is moontlik Nigel dorpsgebied se oudste inwoner. Sy het die 100-merk verlede jaar verbygesteek, maar weens swak gesondheid het sy vanjaar haar 101ste verjaardag op 18 Februarie in 'n siekbed van Nigel Tuiste vir Bejaardes se verswakte afdeling deurgebring. 

Dié voormalige burgemeestersvrou is in 1919 in Johannesburg gebore en het in Turffontein grootgeword. Sy is in Augustus 1937 met die liefde van haar lewe Kühne getroud en die egpaar het hulle gedurende 1940 in Nigel gevestig waar Kühne later die amp as burgemeester opgeneem het.

Drie kinders is uit die huwelik gebore.

Voormalige burgemeesterpaar van Nigel, Kühne Stassen en sy vrou Susie. Susie het op 18 Februarie haar 101ste verjaardag by Nigel Tuiste vir Bejaardes gevier. Kühne is egter in 1996 oorlede.

Ná aftrede het die egpaar na Eeufeespark Aftree Oord verhuis en na die afsterwe van haar lewensmaat in 1996, het Susie haar intrek by Nigel Tuiste vir Bejaardes geneem.

Haar seun Johann het met trots vertel dat sy ma nooit geskroom het om haar gewig by enige projek in te gooi nie.
Volgens hom was Susie as burgemeestersvrou ‘n imposante figuur in die gemeenskap en kinders en mense in nood het haar na aan die hart gelê.

“Selfs by die tuiste het sy ‘n helpende hand verleen waar sy kon, maar weens makulêre degenerasie het haar sig verswak. As gevolg daarvan was sy later van tyd nie meer so aktief by die tuiste soos vantevore nie,” het hy gesê.

Susie het vyf kleinkinders en ses agterkleinkinders en ontvang gereeld besoek van haar kinders.

 

Exit mobile version