Local newsNews

Toelaagtrekkers trek swaar by Nigel Poskantoor

Toelaagtrekkers doen moeite om by Nigel Poskantoor uit te kom, maar die meeste is bejaardes met gesondheidsprobleme wat nie vir ure in die son kan staan nie. Sommiges draai met leë hande om.

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor se gereedheid om SASSA toelaes uit te betaal, is aanvanklik met fanfare aangekondig en met opgewondenheid deur begunstigdes ingewag.

Die praktiese uitvoering van uitbetalings blyk egter ‘n ander storie te wees, aangesien die waardigheid van veral bejaarde toelaagtrekkers sedert bekendmaking van dié nuus in Maart 2018, onder die loep geplaas is.

Nigel Poskantoor is geen uitsondering nie en HERAUT het talle klagtes ontvang waarin daar beweer word dat lang toue toelaagtrekkers op SASSA-betaaldag weens ‘n tekort aan personeel inwag. Daar is geen stoele nie en weens die lang toue wat soms tot ver buite die deure vorm, word besoekers aan uiterste weer uitgelewer.

“Ek was vandag om 11:55 by Nigel Poskantoor waar honderde pensioenarisse sedert 08:00 in rye gestaan het. Een personeellid het by die SASSA-toonbank diens gelewer, terwyl twee ander hernuwing van lisensies, pospakkies en algemene navrae hanteer het. Daar behoort beter voorsiening gemaak te word vir die bejaardes tydens uitbetalings,” het ‘n inwoner gesê.

Johan Kruger (kommunikasiebeampte: Suid-Afrikaanse Poskantoor) het as volg hieroor reageer: “Nigel Poskantoor het tans drie tellers en ‘n takbestuurder. Met die volgende SASSA betaaldag sal addisionele personeel help om na begunstigdes om te sien.”

Hy het bygevoeg dat ‘n bykomende skootrekenaar ingespan gaan word om klante vinniger te help.

“Nigel Poskantoor verskaf stoele aan toelaagtrekkers op die eerste dag van die maand. Die getal stoele is intussen vermeerder om voorsiening te maak vir groter getalle wat die poskantoor besoek. Die areabestuurder sal ook voortaan persoonlik diens by Nigel Poskantoor lewer,” het Kruger verseker.

Die eerste dag van die maand wanneer SASSA uitbetalings gemaak word, is ‘n besige dag, maar volgens Kruger is die 21ste dag van elke maand (wat die laaste dag is waarop voertuiglisensies hernu kan word sonder ‘n heffing vir laat betaling) ook besonder besig. Hy het inwoners, veral toelaagtrekkers verseker dat die poskantoor besig is om rekenaars en netwerke op te gradeer en dat transaksies na voltooiing van dié projek later vanjaar, spoedig afgehandel sal word.

Intussen word daar gehoop dat die poskantoor sy beloftes gestand sal doen en dat ander uitdagings soos toiletgeriewe en drinkwater ook aangespreek sal word.
Inwoners word genooi om die poskantoor se inbelsentrum by 0800 111 502 vir navrae te skakel, of stuur ‘n Twitter boodskap na @PostOfficeSA.

Related Articles

Back to top button