Local newsNews

Veiligheid kom eerste, hoor VLU

Gemeenskapsveiligheid was tydens Nigel VLU se tweede vergadering vir die jaar die hoof besprekingspunt.

Altesaam 23 lede het op 13 Februarie by die Nigel NG Kerk-Oos vir die tak se 747ste vergadering bymekaargekom, waar hulle deur oud-polisielid Herkie Stephens en NCOP bestuurslid Johan Ferreira oor veiligheid toegespreek is.

Ná verwelkoming deur Ronel Lombaard (voorsitter) het Mabel van Staden die verrigtinge met skriflesing en gebed geopen, waarna sy die mikrofoon aan Stephens oorhandig het.

“Veiligheid begin by jou eie huis,” het Stephens gemaan. Hy het beklemtoon dat nalatigheid in ‘n groot mate tot misdaad bydra en daarop gewys dat inwoners soms vergeet om hul motorhuise te sluit, motorvensters toe te maak of hul sekuriteitshekke te sluit. NCOP lede sien dit gereeld wanneer hulle saans die woongebiede patrolleer en moes al telkemale aan inwoners se deure klop om hulle daarop te wys. Onthou, kriminele is opportunisties en sal nie ‘n maklike geleentheid om te steel laat verbyglip nie,” het hy gesê.

Stephens het afgesluit deur die vroue aan te raai om sekuriteit in en om die huis te verskerp word. Hy het gewaarsku dat kriminele steeds metodes soos die oopdraai van buitekrane of afskakeling van kragtoevoer gebruik om inwoners na buite te lok.

Volgende het Anne-Marie Axer die tak se gemeenskapsprojek vir 2020 (aanplant van spekbome) bespreek. Dié projek skop eersdaags af en sy het lede herinner om intussen stegies van dié veelbesproke plant te maak.

Lombaard het die vergadering afgesluit deur lede aan die VLU konferensie wat op 7 Maart te Brackenhurst plaasvind, te herinner.

Die volgende vergadering vind op 12 Maart om 10:00 plaas. Almal is welkom. Vir navrae, skakel Anna-Marie Axer by 082 886 2002.

Related Articles

Back to top button