NewsSchoolsUpdate

Vissies hoof hou van uitdagings

Selma Marx wil elke kind ontwikkel.

Me Selma Marx is ‘n positiewe mens wat van uitdagings hou. Dié nuwe skoolhoof van Laerskool AG Visser het geskiedenis gemaak toe sy op 3 Februarie die eerste vroulike hoof van die skool geword het.
Sy glo dat elke kind op die gebied waarin hy/sy uitblink, ontwikkel moet word en dat geen kind agtergelaat moet word nie. Sy glo ook aan spanwerk en sê sy gaan die personeel se talente ontgin en glo dat hulle as ‘n span met dieselfde visie, ‘n nuwe toekomspad gaan stap.
Me Marx is in Vereeniging gebore en het haar laerskooldae in Kleinzee deurgebring. Haar hoërskoolloopbaan is aan Hoër Landbouskool Kroonstad voltooi voor sy in 1979 aan die Potchefstroomse Onderwys Kollege gaan studeer het.
Sy het die eerste vier jaar van haar onderwysloopbaan as Engels onderwyser van die Potchefstroom Central Primary School gewy, waarna sy in 1987 ‘n pos by Laerskool Leeudoringstad aanvaar het. Haar loopbaan as departementshoof het in 2000 aan Laerskool Unie in Klerksdorp begin voor sy in 2017 as adjunkhoof van President Brand Primêre Skool in Bloemfontein aangestel is.
Me Marx sê sy het gereeld by haar broer Willem Ungerer (wat vir jare in Heidelberg gewoon het) gekuier. Sy het drie dogters en ‘n seun en sê sy ervaar Heidelbergers as oop en vriendelik.
“Dit is vir my ‘n voorreg om as hoof van Laerskool AG Visser die leisels oor te neem. Dit is veral ‘n voorreg om as eerste vroulike hoof van die skool aangestel te word en ek beloof om my heel beste te gee. Ek skroom nie om hard saam met my span te werk nie en glo ons gaan baie vermag,” het Me Marx afgesluit.

Related Articles

Back to top button