Laerskool AG Visser se nuwe vroulike hoof maak geskiedenis

Me Selma Marx vlieg met helikopter tot in harte van Vissies

Me Selma Marx het geskiedenis gemaak toe sy as die eerste vroulike hoof van Laerskool AG Visser aangestel is.
Leerders en personeel het op 3 Februarie opgewonde op die rugbyveld met ballonne gewag vir die nuwe hoof om haar opwagting in ‘n helikopter te maak. Die rooi tapyt is uitgerol, terwyl die leerlingraad ‘n erewag gevorm het.

Mnr Leo Ehlers wat as hoof waargeneem het, het haar verwelkom en gesê sy moet weet dat God ‘n kompas in die mens se lewe is en dat sy daarom haar oë op Hom moet rig.

 

Jaco Billing (voorsitter: beheerliggaam) het gesê dat dit vir die BL ‘n voorreg is om so ‘n dinamiese, gestruktureerde vrou en uitsonderlike leier as hoof te kon aanstel. “Me Marx kom nie net met jarelange ondervinding in die onderwys nie, sy bring ook iets vars na ons skool. Dit is presies wat ons skool nou nodig het.

“Hierdie is die dekade waarin ek glo dat ons die Vader se liefde meer sal ervaar,” het Mnr Billing bygevoeg.
Hy het die versekering gegee dat die BL alles in die stryd sal werp om te verseker dat die skool net soos in die verlede op elke gebied uitstyg. “Ons sal steeds daarna streef om akademie, sport, kultuur en diens op ‘n gebalanseerde grondslag toe te pas, aan te moedig en deur te voer,” het Mnr Billing afgesluit.

 

Me Marx het almal bedank vir hul deel aan die oggend se verwelkoming. “Dit was ‘n groot verrassing. Dit is wonderlik om te weet dat ek saam met soveel wonderlike mense gaan werk en ek weet ons gaan van krag tot krag gaan. Die helikopterrit was een van die dinge op my emmerskoplysie wat ek vanoggend kon afmerk. Dankie aan Ian Goslett wat my veilig tot hier gebring het,” het sy gesê.

Sy het hulle aangemoedig om groot te droom. “Drome kan slegs waar word indien ons hard daaraan werk. Hierdie skool het goed opgeleide onderwysers wat julle kan help om jul drome te bewaarheid,” het sy afgesluit.
Die verrigtinge is afgesluit met Me Marx wat die skoolklok-tradisie gevolg het deur dit op haar eerste skooldag te lui.

Exit mobile version