CrimeNewsUpdate

Rensburg GPF het nou ‘n vroulike voorsitter

Ounie Coetzee wil misdadige elemente uit Rensburg hou.

Ounie Coetzee het geskiedenis gemaak toe sy die eerste vroulike voorsitter van Rensburg GPF geword het. Sy is tydens die GPF se eerste vergadering van 2020 op 21 Januarie verkies.

David van As (voorsitter van Rensburg GPF sedert 2011) het verlede jaar besluit om uit te tree. Van As, wie se werk en toewyding as voorsitter wyd geloof is, het egter ingestem om as vise-voorsitter op die bestuur aan te bly.

Suanette du Toit gaan as sekretaris optree met Joey Oberholtzer as assistent sekretaris. Abel Oberholtzer is die patrollie koördineerder en Herman Labuschagne die begeleiding koördineerder.

Coetzee het gesê sy sal die taak met erns aanpak en saam met haar span daarna streef om misdadige elemente uit Rensburg te dryf. “Ons moet verantwoordelikheid vir ons eie veiligheid neem. Ons kan nie net op die polisie staatmaak nie. Hulle kan nie orals wees nie en deur as hul oë en ore op te tree kan ons help om ‘n verskil te maak,” het sy gesê.

Flip Minnaar (voorsitter) van Heidelberg GPF wat as waarnemer tydens die verkiesing opgetree het, het sy dank teenoor Van As vir sy jarelange diens as voorsitter van Rensburg GPF bedank. “Namens Rensburg se inwoners sê ons vir jou dankie vir jou opoffering om die buurt en sy mense te beveilig. Jou onbaatsugtige diens word raakgesien en ons ken jou hart. Ons is dankbaar dat jy bereid is om steeds op die bestuur te dien,” het Minnaar gesê.

Hy het patrolleerders die versekering gegee dat hulle diens onmisbaar in die gemeenskap is. “Julle verteenwoordig hoop in inwoners se lewens. Mense voel bang en onveilig, maar hulle voel gerus wanneer julle in die omtrek is,” het Minnaar afgesluit.

Rensburg GPF se volgende vergadering is op 18 Februarie om 19:00 in die NG Kerk Rensburg. Vir meer bersonderhede kan Coetzee by 087 368 2857 geskakel word.

Related Articles

Back to top button