Beroepsgeleenthede in gevangenisdiens

Rensburg VLU se dames luister na oud-gevangenishoof.

Korrektiewe Dienste bied ‘n wye verskeidenheid beroepsgeleenthede en dit is ‘n goeie plan vir skoolverlaters en werksoekers om dié departement in gedagte te hou. Dit is die raad van Elmarie Eygelaar, voormalige hoof van onder andere Heidelberg Gevangenis tydens Rensburg VLU se vergadering op 21 Januarie.
Die tema was gemeenskapsbewustheid en Elmarie het meer oor haar dae by dié staatsinstelling vertel. Sy het as jong meisie in 1977 by die diens in George aangesluit. Sy het later haar man (wat ook by korrektiewe dienste betrokke was) in Pretoria ontmoet.
“Werknemers van korrektiewe dienste ontvang opleiding en daar is ‘n magdom afdelings waarin hulle kan spesialiseer. Daar is die kombuis, ‘n naaldwerk-, wasgoed- en administratiewe afdeling en by die opleidingskollege word jy as skut opgelei en leer jy ook van hof- en veiligheidsprosedures. Dit is ‘n interessante beroep soos die afdelings waar gevangenes vaardighede soos die maak van meubels aangeleer word,” het Elmarie vertel.
Sy het vir jare net met vroulike gevangenes gewerk, maar die laaste twee jaar was sy in Boksburg waar sy ook met mans en jeugdiges gewerk het. Sy sê dit was ‘n aanpassing en verkies dit om met vroue te werk.
Sy en haar man is in 1980 na Heidelberg verplaas, maar sy het ook by groot gevangenisse soos Pretoria en Johannesburg (waarvan sy ook die hoof was) gewerk waar sy selfs met ter dood veroordeelde vroue te doen gehad het. Sy moes gevangenes twee maal per jaar evalueer en hul vordering monitor. Wanneer ‘n gevangene vrygelaat sou word, moes Elmarie verseker dat die persoon ondersteuning in die ‘buitewêreld’ ontvang. Sy moes as hoof ook elke middag die etes toets voor dit aan gevangenes voorgesit is.

AnnaMarie du Plessis het die artikel ‘Soekmekaar’ deur Dana Snyman aan dames van Rensburg VLU voorgelees.

AnnaMarie du Plessis het ‘n greep uit Dana Snyman se Soekmekaar en Vlytige Vingers (wat in die Sarie tydskrif verskyn het) voorgelees voor die dames verdaag het.
Rensburg VLU se volgende vergadering is op 18 Februarie om 14:00 by die Gereformeerde Kerk Heidelberg in Pretoriusstraat. Vir meer besonderhede kan Bets Grobler by 082 608 0882 geskakel word.

 

Exit mobile version