CrimeNews

25 Jaar tronkstraf vir plaasaanvaller

Vusi Dhlamini is op 29 Januarie in Nigel se Streekhof 25 jaar tronkstraf deur landdros Juan Voogt opgelê vir die aanval op Hester Drinkwater (60) by hul plaaswoning op Witkop buite Nigel (HERAUT 4 April 2018).

Die aanval het op 27 Maart 2018 by die Drinkwaters se plaaswoning op Witkop buite Nigel plaasgevind. Drinkwater het pas van die dorp teruggekeer nadat sy haar man Ernest by die werk afgelaai het en was alleen binne die huis toe sy deur twee mans (Dhlamini en sy broer) oorval is.

Sy is herhaaldelik deur Dhlamini met ‘n knopkierie geslaan en het verbete teruggeveg toe Dhlamini se broer haar met ‘n broodmes gesteek het. Later het hulle probeer om haar met ‘n elektriese koord vas te bind, maar dit was te kort. Sy is daarna beveel om die kluis oop te sluit, maar het haar daarteen verset. Dhlamini het later wel die kluis oopgekry, waarop hy ‘n 9mm pistool en ‘n jaggeweer uitgehaal het. Dit het op ‘n struweling tussen Drinkwater en Dhlamini uitgeloop en Drinkwater het daarin geslaag om die jaggeweer by hom af te neem. Sy het die sneller getrek, maar die skoot wou nie afvuur nie.

Dhlamini het die geweer uit haar hande geruk en hom uit die voete gemaak. Intussen het haar tuinwerker op Drinkwater op noodkrete reageer en na ‘n naburige plaas gehardloop om hulp te ontbied. ‘n Buurman het Drinkwater te hulp gesnel. Volgens inligting is daar oor en weer skote afgevuur toe Dhlamini se broer (wat reeds na buite gevlug het) op Drinkwater se buurman afgestorm het. Hy is tydens die skietery gewond en het in ‘n nabygeleë mielieland aan sy besering beswyk.

Dhlamini het aanvanklik op vier klagtes tereggestaan, naamlik roof met verwarende omstandighede, moord, poging tot moord en onwettige besit van vuurwapens. Hy is egter net op die klag van roof met verswarende omstandighede en onwettige besit van vuurwapens skuldig bevind en 15 jaar tronkstraf vir klag van roof met verswarende omstandighede en 10 jaar tronkstraf vir die klag van onwettige besit van vuurwapens gevonnis.

Ná die uitspraak het die Drinkwaters hul tevredenheid uitgespreek en die regstelsel geloof vir die wyse waarop die saak van begin tot einde verloop het.

“Dit was vir my emosioneel ‘n reuse-uitdaging om die aanvaller in die oë te kyk, maar ek het deurentyd sterk gebly en geglo dat geregtigheid sal geskied. Ek is tevrede met die vonnisoplegging van 25 jaar en voel dat ek nou berusting gevind het,” het Drinkwater buite die hof aan HERAUT gesê.

Tydens die vonnisoplegging het Mnr Voogt dit uitgelig dat daar ‘n duidelike boodskap aan ander oortreders uitgestuur moet word.

“Plaasmense is weerloos teen hierdie tipe geweld en die vonnis moet as afskrikmiddel vir ander oortreders dien,” het hy gesê.

Hy het Dhlamini se verweer dat hy ten tye van die aanval by die werk was, afgewys en gesê daar bestaan geen alibi wat die bewering kon staaf nie. Mnr Voogt het verder voorgehou dat Dhlamini die aanval vooraf beplan het en dat hy tydens die hofverrigtinge geen berou getoon het nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto. More »

Related Articles

Back to top button