Heidelberg in donkerte gehul oor diewe

Nyapope gebruikers vandaliseer straatligte vir skakelaars en koperdrade.

Slegs 38.3% van Rensburg se straatligte werk en dit is grootliks te wyte aan Heidelberg se Nyaope gebruikers wat die pale vandaliseer en die skakelaars en koperdrade stroop.

“Dit is nag in Rensburg. Letterlik. Ons patrolleerders kan nie hul werk behoorlik doen nie en inwoners lewe in vrees.”
Dit is die woorde van Ounie Coetzee, nuut verkose voorsitter van Rensburg GPF. Misdaad het ook in dié donker strate toegeneem.

Die persentasie is bevestig nadat die GPF ‘n opname oor twee aande (16 en 17) Januarie in Rensburg gemaak het. Dit is ook nie net Rensburg wat in donkerte gehul is nie, maar sekere dele in Sentraal se ligte is ook as gevolg van diefstal buite werking.

Advokaat Gugu Thimane (waarnemende munisipale bestuurder) van Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LPM) sê plate op lamppale word eenvoudig oopgebreek en die skakelaar binne word gesteel en koper kabels uitgeruk.
“Die koper is waardevol en hulle kan vinnig geld maak om vir hul volgende ‘fix’ te betaal,” het Coetzee bygevoeg.
Thimane sê die kabeldiewe veroorsaak ‘n groot kopseer, want sodra LPM ‘n lig regmaak, word die nuwe kabels weer gesteel. “Die vervanging van die kabels en transformators is duur en dreineer die beperkte begroting van die munisipaliteit net meer en meer,” het sy gesê.

Steven Olivier (voorsitter) van Heidelberg Sentraal GPF sê hy wil ‘n pluimpie vir LPM gee. “Die nuwe LED lampe werk goed. Ons ondersoek straatligte wat nie werk nie en hulle is almal gevandaliseer en gestroop.” Olivier beaam dat dit veral die Nyaope verslaafdes is wat die diefstal pleeg. Hy sê die GPF werk goed saam met Thimane en kan ‘n daadwerklike verandering in dienslewering sien. Maandelikse vergaderings met Thimane met al die betrokkenes werp vrugte af. “Jy kan maar sê ek is versigtig optimisties,” het Olivier gesê.

George Booker Snr (voorsitter) van Bergsig GPF sê die probleme wat hulle met straatligte ondervind is meestal wanneer die elektrisiteit af was en weer aankom. “Die kragstuwing is te sterk en dit veroorsaak dat die skakelaars uitskop. Die probleem is dat die kontrakteur wat LPM aangestel het om die ligte te herstel, tot twee weke vat voor hulle die skakelaar kom aansit,” het Booker gesê. Bergsig se patrolleerders verjaag die Nayope gebruikers en misdaad word ook tans goed onder beheer gebring.

Die GPF is dit eens dat patrolleerders in samewerking met Heidelberg polisie en sekuriteitsmaatskappye gereeld die kabeldiewe vastrek, net om hulle (weens die howe wat hulle vrylaat) weer binne ‘n paar dae op straat te gewaar. Olivier het gesê dat die GPF besig is om die saak verder op te neem.

Thimane hou nou maandeliks vergaderings met wyksraadslede, GPF verteenwoordigers en gemeenskapslede om die probleem te probeer oplos. Sy het gesê dat sekuriteitskameras met die diefstal kan help, maar dat dit ‘n duur opsie is wat die munisipaliteit nie kan bekostig nie.

Mirna Mulder (DA raadslid: Wyk 8) sê sy voel moedeloos oor die toedrag van sake. Sy woon ook die vergadering met Thimane by en ontvang goeie samewerking van haar. Daar is egter vele probleme wat nie deur die raad aangespreek word nie.

Munisipale klagtes kan by LPM se oproepsentrum by 0800 118 000 of 016 330 0400 aangegee word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version