Local newsNewsUpdate

Drama in Larisa se bloed

Help dié Vissie om haar Amerikaanse-droom te bewaarheid.

Larisa Lourens is nie ‘n alledaagse 11-jarige wat wag dat dinge gebeur nie. Sy “loop die lewe self storm, dankie” en is nou gekies om in die drama-afdeling van die Model & Talent Expo in die VSA deel te neem.

Dié Graad 6-leerder van Laerskool AG Visser se middelnaam is nie verniet Joy nie. Sy was van jongs af ‘n bondel energie en hou daarvan om mense te laat lag en alles te oordramatiseer, het haar ma Audrey vertel.

 

“Drama is in my bloed en ek geniet dit om op die verhoog te wees. Dit is een van my grootste drome om ‘n aktrise te word,” het Larisa gesê. Sy neem aan soveel sportsoorte as moontlik deel – van karate tot atletiek, hokkie en netbal. Audrey sê laggend sy moet net keer dat Larisa nie te veel hooi op haar vurk laai nie.

Sy het selfs by die bekende Suid-Afrikaanse aktrise Brumilda van Rensburg drama-klasse ondergaan en is by ‘n plaaslike dramaskool ingeskryf. Larisa het ‘n goue medalje by die SATCH (South African Talent Championships) wat verlede jaar in Centurion aangebied is, verower en is gekies om Suid-Afrika in Dallas, Texas in Junie te verteenwoordig.

Larisa is opgewonde om haar talente oorsee op die proef te stel, maar dit gaan bykans R70 000 kos om haar in die VSA te kry.

 

 

SATCH het ‘n amptelike brief saamgestel om die publiek te vra om deelnemers met donasies te ondersteun. Indien jy kan help om Larisa se droom te bewaarheid, kan donasies in die volgende rekening inbetaal word: The South African Talent Championships, Eerste Nasionale Bank, rekening nommer 6238 244 1790, Menlyn, verwysing: LarisaJoyLourensModel&TalentExpo.

Vir meer besonderhede kan Nastassa Ras (hoof uitvoerende bestuurder en organiseerder) van SATCH by 072 402 9082 of Audrey by 083 609 7176 geskakel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button