Local newsNewsUpdate

Lees hardop vir jou kind, dit motiveer hulle

HERAUT ondersteun World Read Aloud Day - skenk asseblief kinderboeke.

Lees hardop of skenk boeke aan diegene wat dit nodig het in jou gemeenskap en dra só by tot wêreld hardop leesdag of World Read Aloud Day (WRAD) wat op 5 Februarie gevier word.
Dié dag is 11 jaar gelede deur LitWorld begin om mense (veral kinders) aan te moedig om meer te lees. Suid-Afrika se Nal’ibali (‘n lees-vir-genot veldtog) het jaarliks oor die afgelope sewe jaar ‘n spesiale boek voorgehou wat aan kinders gelees word. In die eerste jaar in 2013 het die veldtog 13 000 kinders bereik. Verlede jaar was die getal 1 559 730 en vanjaar hoop hulle om twee miljoen kinders te bereik.
Die boek wat deur Nal’ibali vir 2020 voorgestel word is ‘n Dag om te Onthou deur Suid-Afrikaanse skrywer Lorato Trok. Sy het die boek in Setswana (haar moedertaal) geskryf, waarna dit na Engels en al die nasionale amptelike tale vertaal is.
Dit is belangrik om vir iemand ‘n storie hardop te lees of te vertel, veral in hul moedertaal. Nal’ibali is ‘n voorstander dat ‘n goed gevestigde leeskultuur groot veranderinge in Suid-Afrika se onderwysstelsel te weeg kan bring. Kinders wat gereeld lees en na interaktiewe stories (in ‘n taal wat hulle verstaan) luister, is goed toegerus en gemotiveerd om te leer, lees en skryf.
Die organisasie vra alle ouers, onderwysers en kinderversorgers om hande te vat en op 5 Februarie ‘n storie hardop vir die kinders in hul lewens te lees.
HERAUT doen ‘n beroep op inwoners om tot einde Februarie te help om veral minderbevoorregte kinders te help deur tyd af te staan om ‘n boek aan hulle voor te lees. Boekskenkings word ook gevra. Boeke kan by HERAUT in Ueckermanstraat 9 afgelaai word. HERAUT sal dit onder plaaslike skole wat ‘n tekort aan leesstof het, versprei.
Inwoners kan ook gerus ‘n draai by ouetehuise maak en vir die weerloses in ons samelewing ‘n boek voorlees.
Vir meer besonderhede kan HERAUT by 016 341 6373 (kantoorure) geskakel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button