Heidelberg se Driemanskap dalk in ere herstel

Bronsbeelde van Kruger, Pretorius en Joubert pronk dalk binnekort weer by Stadsaal.

Standbeelde wat jare gelede as deel van die Driemanskap gedenknaald voor Heidelberg Stadsaal gepryk het, gaan dalk eersdaags in ere herstel word.

Die bronsbeelde van groot name van die destydse Suid-Afrikaanse Republiek – Paul Kruger (staatspresident), Marthinus Wessel Pretorius (eerste president) en Piet Joubert (kommandant-generaal) – is in 1954 deur die Heidelbergse Afrikaanse Kultuurvereniging opgerig. Hennie Potgieter is as beeldhouer aangestel en die monument is op 9 Oktober van daardie jaar deur Minister FC Erasmus onthul.

Paul Kruger se beeld is in November 2014 vermoedelik deur skrootmetaaldiewe gesteel. Verskeie inwoners het die diefstal voorspel nadat die gedenkplate met reliëfkuns wat onder die borsbeelde op die gedenknaald geleë was, vroeër gesteel is.

 

Foto: Internet – Jonathan Josse

 

Die panele het geskiedkundige oomblikke uit die geskiedenis herdenk. Die vlaghysing van 1880 in Heidelberg, die simboliese Ossewatrek van 1938 en die Rapportryers van 1949 was uitgebeeld.

Lesedi Plaaslike Munisipaliteit het daarna die twee oorblywende beelde afgehaal en in veilige bewaring geplaas.
Bewakers van Heidelberg se erfenis (Heidelberg Heritage Association) het verlede jaar begin navraag doen oor die oorblywende twee standbeelde. Flip Minnaar het die munisipale kantore besoek en Jankie Khumalo se hulp ingeroep.

 

Een van die beelde was in Khumalo se kantoor gestoor, maar daar was onsekerheid oor wat van die ander beeld geword het nie. Minnaar en Khumalo het toe met ‘n grootskaalse soektog begin en elke kantoor deursoek. Die tweede beeld is toe in ‘n ander kantoor opgespoor.

 

Minnaar het met Die Erfenisstigting in Pretoria kontak gemaak om uit te vind of hulle met ‘n replika van Paul Kruger se beeld kan help. Die stigting beskik oor ‘n borsbeeld van Paul Kruger as deel van die beeldhouer Phil Minnaar se versameling wat deur sy weduwee aan die stigting geskenk is. Hulle het bevestig dat ‘n replika teen ‘n koste van R11 875 gemaak kan word.

 

Die borsbeeld sal uit kunshars en nie uit brons gemaak word nie. Die stigting gaan nou die nodige fondse insamel sodat die Driemanskap hopelik voor die einde van die jaar op hul regmatige plek kan pryk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version